
Hy het nog nooi gefaal in enige uitdaging wat aan hom gestel was nie, sê mnr. Bheki Cele, die nuutaangestelde adjunkminister van Landbou, Bosbou en Visserye.
Cele vervang dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus, wat in pres. Jacob Zuma se vorige Kabinet as adjunkminister vir dié portefeulje gedien het.
Cele is in 2012 uit sy pos as polisiehoof onthef nadat die Openbare Beskermer bevind het dat hy hom skuldig gemaak het aan die wanbestuur van huurooreenkomste en onwettig opgetree het. Hy is steeds besig om hierdie afdanking in die hof te beveg, ten spyte van sy nuwe aanstelling.
Cele het aan Landbouweekblad gesê hy sien uit na die nuwe uitdaging. Hy het geen landbou-agtergrond nie. Hy sê die landbou is belangrik omdat dit sorg dat daar voedsel vir die nasie en ook die wêreld is. “Ons moet saamwerk om genoeg voedselsekerheid te skep.”
Mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming het twee adjunkministers gekry. Hulle is mnr. Mcebisi Skwatsha van Gugulethu in die Kaapse metropool en me. Candith Kwati Mashego-Dlamini van Mpumalanga.
Skwatsha, ‘n voormalige LUR in die Wes-Kaap, het aan Landbouweekblad gesê die portefeulje is uitdagend, maar baie relevant. “Ek gaan by ‘n span aansluit wat besig was om die ongelykhede van die verlede te herstel. Dit sal baie beteken om tot die transformasie van die land by te dra,” het hy gesê.
Mashego-Dlamini het verskeie LUR-poste in Mpumalanga beklee, insluitende die een vir landbou, bewaring en omgewingsake, vanaf 1999 tot 2004. In Oktober 2010 is sy aangestel as die LUR van die departement van landbou, landelike ontwikkeling en grondadministrasie.