
Die aansteeklike perde-baarmoederinfeksie (CEM), is gedurende 'n roetine toets by 'n hings in Gauteng gediagnoseer.
Dié siekte het vir die eerste keer in 2011 in Suid-Afrika voorgekom en is sedertdien onder beheer gekry deur middel van streng maatreëls, sê die Departement Landbou, Bosbou en Visserye in 'n nuusverklaring.
Geen gevalle van die siekte is sedert 2013 in Suid-Afrika gerapporteer nie.
Meer oor CEM
CEM is 'n hoogs aansteeklike geslagsiekte, veroorsaak deur die Taylorella equigenitalis-bakteria, wat hoofsaaklik gedurende teling oorgedra word. Weens die aansteeklike aard van die siekte versprei dit baie vinnig.
Merries wat die siekte onder lede het, word onvrugbaar vir die duur van die besmetting. Hoewel beide hingste en merries draers van die siekte is, toon hingste geen simptome nie.
Die impak van die siekte is hoofsaaklik ekonomies, weens die hoë koste om dit te behandel, sowel as die negatiewe impak op teelprogramme. Diere word tipies nie ernstig siek van CEM nie.
Perde-eienaars word aangeraai om sertifikate dat diere CEM-vry is te bekom voor diere vir teling gebruik word. Dié sertifikate behoort ook vir die volgende twee jaar geldig te wees.
Lees hier meer oor die tekens van CEM, oordraging, diagnosering en voorkoming van die siekte.