Die idee vir Gydo Solar & Pumpstorage, ’n streeksgebaseerde kragvoorsienings-inisiatief, het jare gelede by mnr. Pieter du Toit, besturende direkteur van die Dutoit Groep, en ’n vriend, wyle mnr. Botha Schabort, ontstaan. Intussen het mnr. Riaan Swiegers, besturende en tegniese direkteur van SPV Renfields en enigste direkteur van Apec Consulting Engineers en CRPG, asook ’n geregistreerde ingenieur in Suid-Afrika en Namibië, hom by hulle aangesluit. Nou “werk hulle teen tyd” om die projek so gou moontlik deur te voer.
“Die Witzenberg-munisipaliteit is al baie lank in gesprek met Eskom om infrastruktuur aan die verspreidingskant en by substasies op te gradeer, maar ons sit steeds met die probleem dat daar ’n tekort aan energie in Suid-Afrika is,” het Swiegers op Witzenberg Pals se jaarvergadering op Ceres gesê.
Hy het benadruk dat die Suid-Afrikaanse ekonomie afhanklik is van Eskom se netwerkgebaseerde energie.