
Kommer heers oor die skerp toename in aanplantings van suurlemoene. Die SA Sitruskwekersvereniging (CGA) se fokusgroep vir suurlemoene is bekommerd oor dié neiging en waarsku dat teen die huidige koers 'n ooraanbod op die wêreldmark kan ontstaan.
Mnr. Justin Chadwick, CGA-voorsitter, sê Suid-Afrika produseer tans omtrent 17 miljoen kartonne suurlemoene per jaar. Verskeie opnames in die bedryf wys dat die produksie oor die volgende vyf tot sewe jaar tot tussen 25 miljoen en 30 miljoen kartonne sal styg.
Volgens Chadwick is 'n groot deel van die groei te danke aan aanplantings in die Wes-Kaap, waar sommige wynboere besig is om wingerde te vervang met sitrus. Baie van die boere plant suurlemoene aan.
Hy wys daarop dat dit nie net Suid-Afrika is wat al hoe meer suurlemoene aanplant nie. Selfs die noordelike halfrond se nuwe aanplantings kan bydra tot 'n oorvol mark.
Moet met boere in noordelike halfrond meeding
"Hoewel ons seisoene vir sitrusproduksie nie oorvleuel nie, kan 'n mens suurlemoene byna regdeur die jaar produseer en ons moet dus selfs in die noordelike somer met boere daar kompeteer."
Die CGA beveel dus aan dat boere hul aanplantingsbesluite wat suurlemoene betref teen die agtergrond van hierdie data oorweeg. Mnr. Piet Engelbrecht van Piet Citrus in Limpopo sê dit maak nou eerder sin om lemoene aan te plant.
"Dit gaan nie baat om boorde te vestig wat mens vir vyf jaar lank geld kos en dan moet jy jou suurlemoene teen 'n verlies verkoop wanneer jou bome in produksie kom nie," sê hy.
"Mense gaan nie sommer meer suurlemoene begin eet nie, maar vir lemoene is daar altyd 'n redelike vraag."