
’n Paneel van tien internasionale en plaaslike beoordelaars het altesame 960 wyne oor drie dae op die Old Mutual-trofee-wynskou geëvalueer.
Tydens ’n terugvoersessie hieroor het hulle die wynbedryf geloof vir die vooruitgang wat wynmakers en wingerdboukundiges met dié edelkultivar gemaak het. Altesaam 89 Chardonnays is vir die gesogte kompetisie ingeskryf.
Die Chileense wynskrywer en -proeër Eduardo Brethauer sê hy het vyftien, twintig jaar gelede ’n paar “aaklige en onaangename” Suid-Afrikaanse Chardonnays geproe, maar die situasie het sedertdien drasties verbeter. “Ek is verstom deur die nuwe Chardonnays, veral dié uit Suid-Afrika se kusdele.”
Chardonnay staan uit!Volgens Heidi Mäkinen, een van die beste sommeliers ter wêreld wat tans by die ekslusiewe 67 Pall Mall in Londen werk, stem saam dat die Chardonnay-kategorie uitgestaan het.
“Ek het gelukkig nooit die oudmodiese Chardonnays van Suid-Afrika geproe nie, maar ek het gehoor hoe dit was en ek sien dit nog heeltemal te veel in ander wêrelddele. Suid-Afrikaners kwyt hulself nou wonderlik van hul taak. Daar is ’n besliste styl, wat goed is vir die toekoms van Suid-Afrikaanse Chardonnay. Eikehoutvate word slim gebruik, die druiwe is ryp genoeg om die hout te balanseer en die suiwerheid van die vrug te bevorder. Die wyne het ’n vars suurheid, wat dui op verouderingspotensiaal. Wynmakers is slim en respekteer die druiwe in die wingerd en verwoes nie die gehalte daarvan in die kelder nie.”
Heidi Duminy, Kaapse wynmeester wat in die vonkelwyn-kategorie se voorsitterstoel gesit het, meen Chardonnay het ook sy staal behoorlik gewys as basiswyn vir vonkelwyn. Vonkelwyn, gemaak volgens die klassieke metode, groei jaarliks teen dubbelsyfers en die bedryf verdubbel bykans elke vyf jaar in grootte.
Benewens Chardonnay, het die beoordelaars ook houtverouderde Sauvignon blanc uitgesonder.
'Waak teen hout'Brethauer het wel gemaan die bedryf daarteen moet waak om wyne se vrugkarakter met hout te vernietig. Hy glo ook daar lê nog bietjie werk in die wingerd voor, veral om die druiwe teen son te beskerm.
Die plaaslike wynkenner Christian Eedes sê die Pinotage-kategorie het hom “getraumatiseer”.
“Die 20 Pinot Noirs wat ons geproe het was ’n aangename verrassing, in skerp teenstelling met die sowat 80 Pinotages, wat verskriklik was. Dit het net vasgehaak. Ek dink nie dit het met die terrein waar die wingerd geplant is te doen nie, maar eerder met wynmakers se benadering. Die styl help ook nie, ons moet streef na meer finesse.”
Pinotage is moeilike kalantBrethauer sê Pinotage is ’n baie moeilike druifsoort om te verstaan, en die verskillende rigtings wat die bedryf inslaan, help wyndrinkers nie om ’n beter begrip van die kultivar te vorm nie.
“Sommige van die wyne was baie groen en te erg geekstraheer. Dit was moeilik om detail en elegansie te vind.”
Die feit dat meer Pinotages goue medaljes gekry het as in vorige jare, toon daar is sterk polarisasie in die kultivar, meen Michael Fridjhon, voorsitter van die wynskou.
“Daar is beslis mense wat aandag gee aan Pinotage, maar hulle is in die minderheid.”
Meer medaljesVolgens Fridjhon het vanjaar se medalje-oes meer goues opgelewer as voorheen.
“Dis deels ’n funksie van die oesjaar. Baie van die wyne kom uit 2015, wat werklik luisterryke oesjaar was. Jan Boland Coetzee sê hy het veertig jaar vir daardie oesjaar gewag.”
“Almal, van die young guns tot die mallerige randfigure en die erg toegewyde, metodiese wynmakers, gee soveel meer aandag aan wat hulle doen. Ons sien regtig dat daar beter wyne gemaak word, selfs in moeiliker oesjare.”
Voorlopige resultate dui daarop dat 41 goue, 135 silwer en 458 brons medaljes toegeken is.
Jong wyne“Ten spyte van meer inskrywings, het ons het minder trofeë en goue medaljes in die museumklas toegeken. Dit sê vir my die verlede is nie so goed soos die teenswoordige nie. Die jong wyne in die bedryf stuur ’n baie sterker boodskap, en dit is baie bemoedigend.”
Die resultate word op 30 Mei by die Mount Nelson-hotel bekend gemaak.
Foto-byskrif: Michael Fridjhon (naaslinks) saam met die internasionale beoordelaars wat vanjaar gehelp het om wyne te evalueer by die sestiende Old Mutual-trofee-wynskou. Links van hom staan Eduardo Brethauer en aan sy regterkant is Heidi Mäkinen en Neil Beckett. Foto verskaf