
'n Chenin blanc van Boland Kelder het die titel van 2014 SA kampioen-jongwyn ingepalm. Hierdie druifsoort is nou vir die eerste keer sedert 1952 vereer met die gesogte Genl. Smuts-trofee, wat in daardie jaar ingestel is. Dit is die hoogste eer wat 'n jongwyn in Suid Afrika kan ontvang. Hierdie wyn, gemaak deur Boland-keldermeester Bernard Smuts en sy wenspan, is ook gekroon as die SA Chenin blanc-kampioen.
Badsberg Wynkelder in Rawsonville het uitmuntend presteer. Keldermeester Willie Burger en sy formidabele span het die Pietman Hugo-trofee vir die hoogste puntetelling vir die vyf beste inskrywings vir die vierde keer opgeraap. Badsberg het ook die trofeë vir SA kampioen wit versnit met 'n Chenin blanc/Chardonnay (gehout) én die SA kampioen-dessertwyn vir sy wit muskadel/hanepoot/jerepigo ontvang.
Twee ander kelders het met twee trofeë elke weggeloop. Keldermeester Frans Smit en die wynmakers van Spier het hul bekwaamheid gewys met jong witwyne deur twee SA kampioenskap-trofeë in te palm vir 'n sémillon én chardonnay (gehout).
Die trofee vir die SA kampioen natuurlike soet witwyn het na André en Jacques Bruwer van Bon Courage naby Robertson gegaan. Hierdie kelder se Edellaatoes (gehout) is ook gekroon as SA kampioen.
SA kampioen-trofeë is ook toegeken aan: Perdeberg SA kampioen Sauvignon blanc; Stettyn SA kampioen ander wit kultivar Colombar; KWV SA kampioen rooi versnit Shiraz/Cabernet sauvignon (gehout); Bellingham SA kampioen Pinotage (gehout); Audacia SA kampioen Shiraz (gehout); Lutzville Vineyards SA kampioen Cabernet sauvignon (gehout); Namaqua SA kampioen Merlot (gehout); Babylon’s Peak SA kampioen ander rooi kultivar Grenache (gehout); De Krans SA kampioenport (oesjaar) en Montagu Wynkelder SA kampioen-muskadel met 'n Rooi Muskadel Jerepigo.
Van die 1 972 jongwyne wat ingeskryf is, het 17 SA kampioen-trofeë ontvang, 50 is as klaswenners aangewys en 77 het goue medaljes ontvang.
Die geleentheid is aangebied deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Wynskouvereniging (SANWV) én Agri-Expo wat reeds sedert die kompetisie se ontstaan 182 jaar gelede betrokke is, met Sanlam wat onlangs as medeborg aangesluit het.
Besoek die SA Jongwyn webtuiste by www.youngwineshow.co.za vir meer inligting.