
Indien Afrika nie self inspring en sy grond op kommersiële grondslag bewerk nie, sal die Chinese of Indiërs inspring en dit vir hom kom doen.
Dít is die waarskuwing wat mnr. Omri van Zyl, uitvoerende hoof van Agri SA, aan afgevaardigdes by die Afrika-beleggingsindaba vir die landbou tuisgebring het. Suid-Afrika is in ’n ideale posisie om die afskoppunt vir die Afrika-kontinent te wees om die broodmandjie van die wêreld te word, het Van Zyl in Kaapstad gesê.
Maar om dit te vermag, sal dit op ’n praktiese manier gedoen moet word. Om swart boere te brei om kommersiële boere te word, is een van die maniere.
Na 50 jaar steeds netto invoerder van kos
“Meeste Afrika-lande het sedert 1965 onafhanklik geraak. Ons is nou 50 jaar verder en ons is steeds ’n netto invoerder van kos. Die meeste boere in Afrika is kleinboere, so iewers maak iets nie sin nie.”
Van Zyl het gesê toegang tot finansiering is wat hierdie boere se vooruitgang kelder. “Kleinboere se probleem is hulle kry nie toegang tot finansiering nie, want hulle besit niks. Omdat hulle nie toegang tot finansiering kry nie, kan hulle niks verseker nie. Dit beteken een haelstorm kan hom heeltemal vernietig.”
Dit is waarom jy boere nodig het om op ’n kommersiële basis te boer. “Ons het genoeg grond in Afrika om op grootskaal te kan boer. Ons het ook genoeg vaardighede in Suid-Afrika om nuwe boere te help om hulle kommersieel te vestig.”
Donateurs in Afrika
Dis bekend dat baie kleinboere in Afrika deur donateurs gefinansier word. Wanneer die donateur-organisasies hulle geld onttrek uit ’n land, stort die boerderyprojekte in duie.
Van Zyl het uitgewys dat die insetkoste vir boerdery in Suid-Afrika R130 miljard per jaar is, wat deur banke toegestaan word. Boere kan hierdie roete volg omdat hulle die geld teen hulle eiendom kan bekom. Om nuwe boere gevestig te kry, stel hy voor dat die Regering ’n ontwikkelingsfonds op die been moet bring en ook toelaat dat die nuwe boere hulle grond besit.