Die Regering onderhandel tans met China oor die moontlikheid om Suid-Afrika se oorskot mielies na dié land uit te voer.
Luidens ‘n berig op Business Day sê me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, sê haar departement gesels met China oor ‘n broodnodige alternatiewe mark.
Die Regering hoop ook om sodoende nuwe beleggingsgeleenthede vir landbouverwerkingsaanlegte te lok.
Die 2009/’10-oesjaar het ‘n oorskot van 4 miljoen ton mielies opgelewer. Streng mededingingswetgewing verhoed boere om die oorskot in geheel aan die hoogste internasionale bod te verkoop.
Eerste rondte onderhandelinge
“Die eerste rondte onderhandelinge met die minister van landbou sowel as die minister van invoere in China is afgehandel,” sê Joemat-Pettersson.
Sy voeg by China voer nie mielies as ‘n noodsaaklikheid in nie. “Hulle voer produkte wat waarde tot bees- en pluimvee-voer toevoeg in, so ons onderhandelinge gaan rondom die gebruik van die mielies vir waardetoevoeging, wat sal beteken dat ons stelsels vir die verwerking van die oorskot mielies wat ons het, in plek sal moet sit.”
Argentinië, Brasilië en China produseer sowat 60% van die mielies van die ontwikkelende wêreld.
Goeie stap vir langtermyn
Intussen sê dr. John Purchase, hoofbestuurder van die Landboubesigheidskamer, dat as dié onderhandelings geslaagd is, dit die prys van mielies by aanvaarbare vlakke kan laat stabiliseer.
Dit sal ook ideaal wees vir boere en landbou-ondernemings as die minister ‘n langtermynooreenkoms met China kan aangaan.
7 September 2010