
'n Twiet van mnr. Hein Koegelenberg, sakeman en hoof uitvoerende beampte van die wynplase La Motte and Leopard's Leap in Franschhoek, sou rolspelers in die wynbedryf en die eiendomsmark laat regop sit.
Koegelenberg het 'n artikel van The Drinks Business getwiet, waarin berig is dat Chinese nou die 100 wynkelders – nét in die Franse provinsie Bordeaux – besit.
Dit laat 'n mens dink aan die Swartland Kelder, net buite Malmesbury, waarin 'n Chinese sakeman, mnr. William Wu, onlangs 'n beherende aandeel gekoop het.
In Time van 6 Oktober 2014 is juis 'n insiggewende artikel oor skatryk Chinese sakelui se groot belangstelling in een van Frankryk se mees geliefde produkte, rooi wyn. En dié Chinese kóóp in Frankryk. Die eerste chateau in Bordeaux is in 2008 gekoop, en dit het tot die 100 vroeg in 2015 gestyg, soos wat The Drinks Business beskryf.
Dit het ook te doene met die Chinese kultuur, en dat die Rooi Draak met jou sal glimlag as jy 'n glasie rooi in die hand staan, by wyse van spreke. China is, volgens Time, nou die wêreld se grootste verbruiker van rooi wyn. Sowat 90% van die wyn wat in China verkoop word, is rooi. In 2014 is 1,8 miljard bottels wyn in China verkoop, aldus die tydskrif.
Volgens die artikel in The Drinks Business bestee die Chinese sakemanne gemidddeld 10 miljoen euro per chateau. Sowat 80% van dié wyne word dan na moedertjie China uitgevoer. Sommige van die skatryk kopers koop glo die wynplase net omdat hulle kan! Die Franse eiendomsmark sug behaaglik daaroor.
Maar eers terug na Suid-Afrika: Die nuwe voorsitter van Swartland Kelder, Wu, se belange in die elektronika-besigheid het hom in die vroeë 1980's na Suid-Afrika gebring, waar hy 'n belangstelling in die wynbedryf ontwikkel en 'n belegging in die Paarlse wynkelder Veenwouden gemaak het.
Swartland Kelder pars jaarliks sowat 25 000 ton druiwe. “My besluit om in Swartland Kelder te belê is gemotiveer deur die feit dat ek na die kelder kom met 'n gevestigde mark vir die produk,” het Wu gesê ná die transaksie beklink is.
“Dié mark is in China, waar ek 'n bestaande vraag het vir die gehalte en volume wyn wat Swartland produseer. Die maatskappy het toegang tot goed-verboude druiwe en is een van die min Suid-Afrikaanse kelders van sy grootte waar die meerderheid van aangeplante druiwe rooi kultivars is, en dit is juis waarin die Chinese mark die meeste belang stel.”
In Malmesbury word bespeigel dat Wu ook moontlik belang kan stel in 'n botteleringsaanleg aan die Weskus.
Volgens Koegelenberg, wat self heelwat wyn na China uitvoer, is net een ander wynplaas in Suid-Afrika in Chinese besit: Dit is L'Huguenot by Val de Vie. Dus drie kelders in SA waarin Chinese nou belange het.
Dis seker nie vergesog nie om te dink dat Chinese sakelui ook in wynplase in SA kan begin belang stel nie? Suid-Afrika en China is lede van die Brics-vennootskap, wat handel tussen lidlande bevorder. Maar, kopers sal seker eers vasstel na watter kant toe eiendomsreg in Suid-Afrika op pad is. Maar geld praat en dalk besit Chinese sakelui al heelwat grond in Suid-Afrika?
Net die tyd sal leer.
Bron: The Drinks Business
Bron: Time