
Die suiwelmaatskappy Clover het Maandag ’n dringende interdik gekry waarvolgens twee stakende vakbonde in die openbaar gewelddadige optrede en intimidasie as deel van die staking moet veroordeel.
Die General Industries’ Workers Union of South Africa (Giwusa) en Food and Allied Workers Union (Fawu) se Clover-lede staak reeds sedert 22 November laasjaar.
Clover sê vakbondlede het as deel hiervan eiendom vernietig, handel ontwrig en daar was ook plundery by verskeie kleinhandelaars landwyd.
Luidens mediaberigte is ’n sekerheidswag die afgelope naweek dood terwyl hy ’n Clover-afleweringsvoertuig teen stakende werkers in Olifantsfontein, Gauteng, beskerm het.
Vakbonde het beoog om weer môre (27 Januarie) by winkels met Clover-produkte te betoog.
Regter Portia Nkutha-Nkontwana van die arbeidshof in Johannesburg het Maandag in die dringende tussentydse interdik teen die twee vakbonde en verskeie betrokke individue beslis dat die twee vakbonde binne ’n week moet bevestig dat hulle sekere stappe binne 24 uur van die betekening van die bevel aan hul kantore gedoen het.
Benewens die veroordeling van geweld, moet hulle ook intimidasie van niestakende werkers en enige derde partye, asook enige skade aan eiendom veroordeel. Hulle moet dit doen deur middel van ’n luidsprekermegafoon, verspreide vakbondpamflette en SMS- of WhatsApp-kommunikasie aan hul lede.
Hulle moet ook op hul Facebook-bladsye ’n voorgeskrewe verklaring publiseer waarin hulle onder meer sê dat enige geweld of onwettige optrede tydens die staking die reputasie van die vakbond beklad, die staking ondermyn en afbreek doen aan die regmatigheid van die stakingseise.
Nkutha-Nkontwana beveel ook dat bewoording op Giwusa se Facebook-blad verwyder moet word wat stakers aanmoedig om Clover-produkte van rakke te verwyder en in trollies in supermarkte se gange te pak, en plakkers met slagspreuke daarop te plak.
Die interdik is op ’n tussentydse grondslag toegeken en die volgende hofdatum is 6 Mei.
Clover reageer op bewerings
Clover sê in ’n verklaring die vakbonde maak vals bewerings, soos dat Clover en die Milco-konsortium (wat Clover laat in 2019 gekoop het), met die aflegging van werkers nie die voorwaardes nakom wat mededingingsowerhede vir die transaksie bepaal het nie.
“Dit is eenvoudig, en duidelik, onwaar. Clover moet ’n jaarlikse verslag oor die samesmeltingsvoorwaardes aan die Mededingingskommissie indien en het tot dusver aan alle voorwaardes voldoen. Die sluiting van sommige fabrieke is in 2019 deur die kommissie goedgekeur omdat dit nodig was lank voordat Milco ’n aandeelhouer geword het,” sê Clover.
“In ’n belangrike strategiese verandering om ons volhoubaarheid as onderneming te bou, skep ons Afrika se eerste suiwelnywerheidspark. Dit sal vereis dat sommige fabrieke gekonsolideer word.
“Dit is destyds alles lank in besonderhede aan die kommissie en vakbonde verduidelik. Dis is onduidelik waarom die kwessie, waaraan daar reeds in besonderhede baie jare gelede aandag gegee is, nou na vore gebring word wanneer daar ’n loondispuut is.”
Clover stel ook die feite rakende die getal van 2 000 werkers wat volgens die vakbonde afgelê is, en sê 850 werknemers het hul werk deur verpligte afleggings verloor. Daar was ook werknemers wat vrywillige skeidingspakkette aanvaar het of wat naby hul aftree-ouderdom was.
Volgens Clover is die herstruktureringsproses nou afgehandel.
Die maatskappy sê dit is onwaar dat die regering met Clover onderhandel om hom oor te neem. “Geen sulke gesprekke het plaasgevind nie en ons dink nie dit is ’n werkbare idee nie. As die ekonomie swak is, soos wat ons nou sien weens covid-19, kan geen maatskappy bloot bly verliese maak nie, ongeag wie sy aandeelhouers is.”