Die afname in melkboere is ’n wêreldwye neiging en Clover meen konsolidering is ’n stap in die regte rigting.
Mnr. Johan Vorster, hoof uitvoerende beampte, sê hulle is nie bekommerd oor die daling in Suid-Afrika se getal melkboere nie.
“As ’n mens na die syfers kyk, dink ek daar is sowat ’n tiende oor van die aanvanklike getal melkboere in die bedryf, maar dié melkboere wat voortgaan, se boerderye is gesond en hulle produseer op ’n groot skaal,” aldus Vorster.
Hy meen ál meer jonger boere betree die landbou- en suiwelbedryf en dat konsolidering van plase om groot ondermenings te vorm, meer en meer gaan voorkom. “En dit kan ’n goeie ding vir die land en die bedryf wees.”
R4 per liter
Die groep sê hy het sedert begin vanjaar sy pryse aan melkboere met gemiddeld sowat 20% of 60c per liter verhoog. Dié stap is gedoen om boere te help om hoë produksiekoste te hanteer.
Mnr. Jaques Botha, hoof finansiële beampte, sê “ons sou baie graag dié verhoging reeds vanaf Augustus verlede jaar wou instel, maar daar was toe te veel melk in die mark.”
Vorster sê hy weet nie of ’n gemiddelde prys van R4 per liter, soos wat die Melkprodusente-organisasie (MPO) verlede week vir later vanjaar voorspel het, gaan realiseer nie. “Dit is baie moeilik om so ’n voorspelling te maak. ’n Mens sal moet sien wat mielie- en voerpryse gaan maak. Ons monitor die mark daagliks om ons pryse te meet.”
Botha sê van die boere wat op die Hoëveld vir hulle melk lewer, ontvang reeds meer as R4 per liter melk. “Dit hang af van waar jy geleë is en die gehalte van die melk wat gelewer word.”
Self polisiëring
Vorster sê boere moet besef prysneigings is ook in hul hande. “’n Selfpolisiëringseffek bestaan. Te veel melk in die mark beteken laer pryse, terwyl pryse styg as die voorraad minder is.”
“Daar is geen boosheid in ons nie. Hoekom moet boere nie geld maak nie? Boere moet wel besef dat hulle hulself oor ’n tydperk lank moet reguleer wat produksie en voorraad betref,” aldus Vorster.
13 Maart 2012