
Groot opgewondenheid hhers oor Clover se borgskap vir die Aardklop Kunstefees, sê die maatskappy.
Mnr. Chris Lerm, bemarkingsbestuurder, sê die besluit om die kunstefees se naamborg te word, was ‘n bemarkingsbesluit gegrond op die maatskappy se handelsmerkuitbreiding onder dié verbruikers waarop hulle spesifiek wil fokus.
“Ons besluit is gegrond op kommersiële waarde. Ek dink nie daar is al ooit soveel mense tegelykertyd aan ons suiwelprodukte maar ook aan ons ander produkte, soos ons minerale water en ys-tees, blootgestel nie. Hierdie brogskap is vir ons ‘n belegging, ‘n mens gee deesdae nie net meer geld weg nie,” vertel Lerm.
Die maatskappy het vroeër die jaar aangekondig dat ‘n borgskap van R30 miljoen oor die volgende vyf jaar aan die Aardklop Kunstefees goedgekeur is. Die fees heet in 2011 dus die Clover Soveel Beter Aardklop Kunstefees.
Die R30 miljoen – niks ekstra
Wat kritiek rondom dié borgskap betref, sê Lerm dit het die maatskappy nie enige ekstra geld uit die sak gejaag nie. “Ons het besluit om die begroting wat ons in vorige jare vir handelsmerk-advertering in twee tv-sepies bestee het, saam te kanaliseer vir dié borgskap.”
“Hierdie R30 miljoen oor vyf jaar werk op die ou end uit op 0,2c per liter melk wat ons van boere invat,” verduidelik Lerm. Hy sê saam met dié borgskap het die maatskappy ook aangekondig dat hy melkkwota aan boere vir die boekjaar van 1 Julie 2011 tot 30 Junie 2012 met 50 miljoen liter verhoog is.
Uitbreiding na kuns en kultuur
Lerm sê kuns en kultuur is vir die maatskappy ‘n belangrike aspek, omdat dit vroeg reeds inslag lewer in enige persoon se lewe. Hy sê hulle wil graag sien dat die land se kunste bevorder word.
Die vennootskap is ook van plan om die Clover Aardklop-vaandel na die res van die land se plattelandse gemeenskappe uit te brei. “Ons wil hierdie konsep en die kunste aan mense in Mafikeng of Vryburg of ander kleiner dorpe bekend stel.”
8 September 2011