
Stakende Clover-werkers het vanoggend na bewering ’n veiligheidswag vermoor en twee wagte kritiek beseer in ’n staking wat reeds laat in November begin het.
Die wag wat dood is, se naam is nog nie bekend gemaak nie.
Mnr. Tsephe Molatsi is op 22 Januarie vanjaar ook deur gewelddadige stakers vermoor.
Clover sê hy het duidelike videomateriaal en foto’s van die gebeure toe die wagte by sy Clayville-tak in Gauteng geslaan en een vermoor is. Die beeldmateriaal is aan die polisie oorhandig en sal openbaar gemaak word sodra die polisie sê dit kan bekend gestel word.
Volgens Clover het sowat 150 stakende werkers vanoggend by sy Clayville-tak byeengekom van waar hulle na ’n byeenkoms by Clover se Atlas-tak sou gaan.
Hulle het veiligheidswagte by die Clayville-tak met vuurwapens, klippe, knuppels en ander wapens aangeval, terwyl die veiligheidswagte met rubberkoeëls gereageer het.
Die maatskappy het die naam van die hospitaal weerhou waar die twee wagte opgeneem is, omdat getuies van vorige gebeure gedreig is en nou in getuiebeskerming is.
Clover sê twee stakende werkers is by ’n gebou langsaan in hegtenis geneem en aan die polisie oorhandig.
‘Dit is moord’
“Dit kan eenvoudig nie so aangaan nie,” het mnr. Steven Velthuysen, groepsbestuurder van regs- en sekretariële sake by Clover, gesê. “Herhaaldelike geweld deur vakbondlede is heeltemal onaanvaarbaar.
“Nog iemand is nou vermoor. Die vakbondleiers en hul lede het twee interdikte byna geïgnoreer, en is duidelik buite beheer. Dit is nie nywerheidsaksie nie. Dit is moord.”
Interdik teen geweld
Clover het op 24 Januarie ’n interdik in die arbeidshof in Johannesburg bekom wat onder meer bepaal het dat vakbondleiers geweld as deel van die staking moes veroordeel. Velthuysen het by navraag gesê die leiers het ’n kort verklaring op hul Facebook-blad geplaas en ’n beëdigde verklaring by die hof ingedien om te bevestig dat hulle die hofbevel nagekom het. “Dit is duidelik dat hulle geen beheer oor hul lede het nie.”
Velthuysen het gesê Clover het deelgeneem aan twee bemiddelingsessies met vakbonde, wat deur ’n staatsaangestelde bemiddelaar hanteer is, maar wat in nog ’n dooiepunt geëindig het.
“Na ons mening was die voorstelle aan die vakbonde billik en redelik. Ongelukkig het die vakbonde geen bona fide-bedoeling getoon om die dispute vriendelik op te los nie en die maatskappy se voorstelle vanuit die staanspoor verwerp.”
Clover oorweeg in oorleg met sy regsverteenwoordigers watter stappe hy volgende kan doen.
Produksie min ontwrig
Velthuysen het gesê soos wat met enige staking sal gebeur, is daar ontwrigting in produksie, “maar ons het planne in werking om te verseker dat ons aan ons kliënte kan lewer. Ons het onder die omstandighede goed gevaar.”
Sover Clover bewus is, raak die staking nie melkboere wat aan Clover, via Dairy Group, lewer nie.
‘Polisie moet optree’
Volgens mnr. Kobus Hoffman, VF Plus-lid van die Gautengse wetgewer, het sy party in reaksie op die tweede veiligheidswag se dood lt.genl. Elias Mawela, Gautengse polisiekommissaris, dringend versoek om streng op te tree teen die stakers.
“Die staking wat nou lei tot die dood van onskuldige mense kan nie toegelaat word nie en die polisie moet alle mag gebruik om dit stop te sit,” het Hoffman gesê.