Clover het aan Suid-Afrikaanse melkboere ‘n vroeë Kersgeskenk gegee met die nuus dat produsente vanaf 1 Januarie aanstaande jaar 19,5 sent meer per liter melk sal ontvang.
Volgens ‘n verklaring van Clover sal dié styging opgevolg word met ‘n verdere styging van 22 sent per liter vanaf 1 Februarie 2012. Dié styging sal dieselfde wees landswyd.
Daar is besluit op dié aanpassings, wat stygings van 6,5% en 6,9% onderskeidelik verteenwoordig, weens stygende insetkoste wat talle melkboere al gedwing het om die bedryf te verlaat.
Volgens Clover het die ooraanbod van melk gedurende die herfs en vroeë winter verhoed dat prysstygings vroeër geïmplimenteer kon word.
“Hoewel dit jammer is dat die verbruiker nóg prysstygings moet absorber, sal ons voortgaan om die situasie te monitor om te verseker dat ons ‘n billike prys aan produsente betaal. Die duur insetkoste en die melkaanbod kan dalk verdere stygings in die kort termyn veroorsaak.”
5 November 2011