
Die suiwelmaatskappy het volgens mediaberigte die perseel in City Deep in die Goudstad se nywerheidsgebied teen R52,2 miljoen aan ’n Durbanse belegger verkoop.
Mnr. Steven Velthuysen, groepsbestuurder van regs- en sekretariële dienste van Clover, het by navraag gesê die verkoop van die perseel is deel van Clover se groter plan om bedrywighede te optimaliseer.
“Ons het reeds in Mei vanjaar die sentrum in City Deep ontruim en al ons bedrywighede by ons Clayville-aanleg (in Midrand) gekonsolideer.”
Velthuysen sê omdat die aanleg by City Deep vir verspreiding gebruik is, het dit geen uitwerking op die maatskappy se bedrywighede nie.
Clover het verlede jaar, as deel van sy projek Sencillo en weens die swak munisipale dienste op Lichtenburg in Noordwes sy kaasfabriek daar gesluit en dié bedrywighede na sy groot aanleg in Queensburgh, Durban, verskuif.
Die maatskappy het reeds ’n paar jaar gelede besluit om verskeie produksie-aanlegte te konsolideer en mega-aanlegte in Clayville, Queensburgh, Bloemfontein en Gqeberha te vestig.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.