Boere in die distrik Colesberg, wat verlede week erg onder ‘n brand deurgeloop het, sê hulle is bekommerd oor brandstigting.
Mnr. Clem Olivier, voorsitter van die Colesberg-boerevereniging, sê sedert Saterdag (12 November 2011) het vyf brande voorgekom wat moontlik gestig is.
Twee brande het Dinsdag (15 November 2011) in die gebied voorgekom, een naby die N1 en een naby die dorp se nywerheidsgebied.
“Die brand wat Saterdag (12 November 2011) voorgekom het, het op ’n plek begin waar geen natuurlike oorsake dit kon veroorsaak nie,” vertel Olivier. Hy sê van dié brande is by die Polisie aangemeld.
Laaste 100 ha
Hy sê nog ’n brand is na bewering Sondagoggend (13 November 2011) gestig, wat daartoe gelei het dat ’n boer sy hele plaas verloor het. “Sowat 100 ha van die plaas Veepos was oor ná die aanvanklike groot brand Dinsdag, 8 November 2011, maar die res het Sondag in die slag gebly.”
Olivier sê volgens sy statistiek het sowat 107 000 ha afgebrand, en is 1 000 stuks vee verloor. Kyk gerus hier na foto’s van die brande.
Olivier sê intussen het hulle met die Umzumbomvu-munispaliteit op die dorp vergader weens die swak reaksie wat hulle verlede week van die munisipaliteit gekry het.
“Die aanvanklike probleem was dat die watertrok se drukpompe gesteel is. Toe het die waterkar nie wiele gehad nie, so ons was op onsself aangewese. Ons het ook tot nou toe nog geen terugvoering van die munisipaliteit op De Aar gekry nie.”
Hy sê hulle is baie dankbaar dat hulle sedert dié gesprek met die Umzumbomvu-munispaliteit, vinnig reaksie en optrede van die munisipaliteit se kant kry. “Die twee brande wat Dinsdagoggend (15 November 2011) voorgekom het, is baie vinnig geblus.”
16 November 2011