
Die voorvalle van brandstigting en vandalisme wat gister in Coligny plaasgevind is uit talle oorde veroordeel en ’n beroep is op die polisie gedoen om met erns op die situasie te reageer.
Gemeenskapslede het met woede op die suksevolle borgaansoek van mnre. Pieter Doorewaard (26) en Philip Schutte (34) reageer. Hulle is op borg van R5000 elk vrygelaat en word daarvan aangekla dat hulle verantwoordelik is vir die dood van die 16-jarige Matlhomola Mosweu.
Mosweu is agter op ’n bakkie na die polisie vervoer nadat hy na bewering in ’n sonneblomland betrap is. Mosweu het van die bakkie af geval en sy nek gebreek, waarná die boere die ongeluk by die polisie aangemeld het. Volgens hulle het Mosweu van die bakkie af gespring, terwyl die staat hulle van moord beskuldig.
Chaos
Chaos het uitgebreek na die beskuldigdes se vrylating. Huise en lande is aan die brand gesteek en die polisie moes bontstaan om die situasie onder beheer te kry.
Intussen word die premier van Noordwes, mnr. Supra Mahumapelo, daarvan beskuldig dat hy rassistiese uitlatings maak en gemoedere verder aanblaas. Volgens Afriforum het Mahumapelo op Mosweu se begrafnisdiens gesê die seun is dood “in die hande van wit mense.”
Mnr. Michal Groenewald, leier van die VF Plus in Noordwes, sê in ‘n verklaring Mahumapelo moet pa staan vir verdere geweldadige betogings rondom die saak.
“Wanneer wit persone deur swartes vermoor word, is dit gewone misdaad. Wanneer die situasie omgekeerd is, maak die ANC rassisme daarvan. Dit is onaanvaarbaar,” sê Groenewald. “Mahumapelo kan gerus sê hoeveel begrafnisdienste van vermoorde wit boere in die provinsie hy al bygewoon het en wat hy daaroor te sê gehad het."
Vervolging
Die TLU SA het op sy beurt geëis dat diegene wat skuldig is aan brandstigting, vervolg word.
“Dit is verregaande dat ’n bende reg in eie hande neem en dit nogal terwyl die slagoffer niks met die hele hofsaak te doen het nie,” sê mnr. Louis Meintjes, voorsitter, in ’n verklaring. Van die slagoffers van brandstigting op Coligny sluit in ’n plaaslike dokter wie se huis afgebrand is en ’n sake-eienaar, wie se besigheid voorheen tydens die onrus geplunder is, terwyl sy huis gister ook deur betogers aan die brand gesteek is.
Mnr. Mmusi Maimane, leier van die DA, het sy kommer oor die situasie in ’n verklaring uitgespreek en ’n beroep op inwoners gedoen om die regsproses sy gang te laat neem. Maimane waarsku teen die mobilisasie van private burgers.