“Geen ooreenkoms sonder die landbou nie,” is ’n slagspreuk wat al harder opklink by die COP17-klimaatberaad in Durban.
Afrika-onderhandelaars word gevra om aan te dring op ’n bindende en verantwoordelike klimaat-ooreenkoms oor die landbou. “Só ’n ooreenkoms moet voedselsekuriteit bevorder ondanks die werklikhede van klimaatveranderinge,” sê dr. Lindiwe Sibanda, uitvoerende hoof van die Netwerk vir Beleidsanalise oor Voedsel, Landbou en Natuurlike Hulpbronne (Fanrpan).
Fanrpan is ’n nie-regeringsorganisasie wat klimaatvriendelike landbou in Afrika probeer bevorder.
Sibanda sê dit nou die tyd om verbintenisse van die vorige klimaatberaad in Cancun, Meksiko, te bekragtig. Veral geldelike verbintenisse moet verseël word om te verseker dat geskikte landbou-projekte nie net drome bly nie, maar meetbare werklikhede word.
Fanrpan het begin met die slagspreuk “No agriculture – no deal”. Sibanda sê dit is nie ’n oproep tot protes nie. Dit beklemtoon net FANRPAN se erns om landbou in die kollig te plaas om dit die ruggraat van Afrika se ekonomie is.
Ander invloedryke landbou-organisasies soos die VN se Voedsel en Landbou-organisasie (FAO), Farming First en ook die Wêreldbank het in ’n ope brief onderhandelaars gevra om die belangrike rol van landbou te erken en die sektor by die adviesgroep vir wetenskaplike en tegnologiese voorstelle te betrek.
1 Desember 2011