
Die loon van R26 per dag wat landbouminister Senzeni Zokwana sy veewagter glo betaal, was net mooi genoeg om Cosatu rooi te laat sien.
City Press het die naweek berig dat Zokwana se veewagter boonop sewe dae per week werk. Dié loon is sowat ’n derde van die minimum loon vir die landbou. Werkers moet ook een rusdag per week kry.
Cosatu sê leiers moet ’n voorbeeld stel om ordentlike lone te betaal en te sorg dat werknemers goeie werksomtandighede het. Die vakverbond gaan die beweringe opvolg.
* Die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye sê in ’n verklaring dat hy kennis geneem het van dié mediaberigte. Hy sê hy besit nie ’n plaas nie, maar slegs ‘n trop beeste.
Zokwana sê hy is verbind tot die sektorale vasstelling van lone vir plaaswerkers, soos wat dit in die Wet op Basiese Indiensneming, No. 75 van 1997, soos deur die Minister van Arbeid in 2013 aangekondig is.
Zokwana sê hy wil die landbousektor deur sy voorbeeld lei en hy moedig alle boere aan om die minimum lone te betaal, soos deur die sektorale vasstelings bepaal is.
Bron: Fin24