
Cosatu en die ANC se wilde stellings oor die sogenaamde afsetting van plaaswerkers in die Wes-Kaap bly net veralgemenings sonder dat dié twee organisasies die feite op die tafel plaas, sê mnr. Alan Winde, Wes-Kaapse LUR vir landbou.
Winde het ’n nuusverklaring uitgereik nadat mnr. Tony Ehrenreich van Cosatu op Dinsdag, 7 Oktober, weer gedreig het dat boere se plase afgevat gaan word oor beweerde afsettings.
Winde sê dit is tyd dat Cosatu en die ANC hul bewerings met feite staaf. “Dit is jammer dat die twee organisasies politiek speel, in ’n klaarblykilke poging om weer kontroversie in die landbou te stook. Dié organisasies doen dit ten spyte daarvan dat verskeie meganismes bestaan waarmee dit moontlik is om werklike oplossings te vind vir sake wat plaaswerkers raak.
“Omdat geen bewyse by ons aangemeld is dat meer afsettings plaasvind nie, is dit ’n groot bron van kommer vir my. Ek doen ’n beroep op Cosatu om die bewyse van die afsettings aan my te verskaf, sodat ek dit met die nasionale regering kan opvat.”
Winde sê hy het onlangs, ná die grondhervormingskonferensie wat sy departement aangebied het, aan die nasionale adjunkminister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, mnr. Mcebisi Skwatsha, geskryf en hom versoek om die gevalle van onwettige afsettings onder die Wes-Kaapse regering se aandag te bring. Geen terugvoering is nog van Skwatsha ontvang nie, sê Winde.
* Intussen het AfriForum ook 'n beroep op Wes-Kaapse boere gedoen om hulself en hul eiendom te beskerm teen die Ehrenreich/Cosatu-bedreiging.
Dít, nadat Ehrenreich gesê het dat plase in dié provinsie “op groot skaal beset sal word” en dat 'n sogenaamde “oorlog om geregtigheid” op pad is indien boere nie ophou om werkers van plase af te sit nie.
“Ehrenreich hits spanning tussen werkers en boere aan, hy moedig geweld op plase aan in ’n tyd waar plaasaanvalle 'n skokwerklikheid in die land is en veroorsaak verdere konflik oor grond. Cosatu se onverantwoordelike uitsprake polariseer gemeenskappe in landelike gebiede en sal verdere afleggings veroorsaak,” het mnr. Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, gesê.
“Sonder boere sal ons ’n land van hongersnood wees. Selfs Ehrenreich word deur boere, wat hy nou as vyande uitmaak, gevoed,” het Cameron gesê.