
CBH het dié aanleg in 2020 by Enterprise gekoop en die afgelope jaar R150 miljoen bestee om dit in ’n hoenderverwerkingsaanleg te omskep. Die maatskappy het verdere planne vir uitbreiding danksy die groeiende vraag na verwerkte produkte.
Mnr. Brendon de Boer, uitvoerende hoof van CBH, wat die aanleg die “pluimveepaleis” gedoop het, sê in ’n verklaring die maatskappy brei al hoe meer uit na die ontwikkeling van waardetoegevoegde produkte om sy produkportefeulje te diversifiseer.
Die “pluimveepaleis” sal die tuiste wees van sy Supreme Chicken-handelsmerk se verwerkte, waardetoegevoegde produklyne, wat tans onder meer hoenderfrikkadelle, hoender-nuggets en hoenderrepies insluit wat voorsien in die groot vraag vanuit die kitskosrestaurantsektor.
CBH sê kitskosrestaurante wil vrieskas-na-braaierprodukte van gehalte hê wat gedeeltelik of ten volle gaargemaak is, sodat hulle in die voorbereiding van hul maaltye tyd kan bespaar.
Die maatskappy beleef groei in die vraag na sy bestaande produkte, maar ook na verskillende produklyne met nuwe potensiaal, wat nie net in die voedseldienssektor is nie.
Volgens mnr. Francois Jacobsz, hoofbestuurder van Supreme Poultry, is daar bestaande toerusting by die aanleg wat ’n verskeidenheid produkte moontlik maak en waarmee geëksperimenteer kan word vir die ontwikkeling van nuwe produklyne.
Daar is ook ’n ten volle toegeruste laboratorium waar voedselveiligheidstoetse gedoen kan word.
Mnr. Phil Tozer, verkoops-en-bemarkingsbestuurder, sê verbruikers hou van voorafbereide voedsel wat bekostigbaar, voedsaam en geredelik beskikbaar is. Hoenderprodukte wat opgewarm en byna dadelik opgedien kan word, en hoenderburgers en schnitzels wat vinnig is om om voor te berei, raak al hoe gewilder.
Volgens De Boer sal nuwe toerusting met die jongste tegnologie in Oktober geïnstalleer word en teen einde vanjaar sal produksie na verwagting al verviervoudig het tot 800 t/maand, met ’n maandelikse teiken van 1 250 t/maand teen Januarie 2023.
Hy sien uit na die dag wanneer daar van worsies tot moontlik ingemaakte hoendervleis en gaar heel hoenders vir die kleinhandel, gasvryheidsbedryf en uitvoermarkte by die aanleg gelewer sal word.
Moontlikhede van uitvoer
CBH is besig met ’n proses om die aanleg te akkrediteer vir uitvoer na die Europese Unie, Brittanje en die Midde-Ooste.
De Boer en sy span is opgewonde oor die moontlike uitvoer van gaar hoendervleisprodukte. Die aanleg is halaal gesertifiseer, wat deure open vir potensiële uitvoer na die Midde-Ooste. De Boer sê aanvanklike verkennende gesprekke met belangstellende partye in die Verenigde Arabiese Emirate het goed verloop.
Uitbreiding volgens meesterplan
Volgens De Boer is die groei by die Germistonse aanleg bykomend tot die groei waartoe die maatskappy hom volgens die pluimveemeesterplan verbind het, naamlik om 400 000 meer hoenders per week te verwerk.
“In Suid-Afrika alleen het ons en ons kontrakboere die afgelope drie jaar meer as R1 miljard belê en ons is goed op dreef om 2,3 miljoen hoenders per week aan die Suid-Afrikaanse mark te lewer. In die proses het ons 122 bykomende werkgeleenthede geskep. Tesame met die 1,5 miljoen hoenders wat ons per week aan ander lande verskaf, plaas dit CBH in ’n sterk posisie as die oorheersende pluimveemaatskappy in Afrika suid van die Sahara.”
Mnr. Izaak Breitenbach van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging sê die bedryf as geheel het onderneem om teen 2023 R1,5 miljard te bestee om produksie uit te brei, meer werkgeleenthede te skep en opkomende boere te bemagtig. Dit is volgens hom danksy maatskappye soos CBH, wat meer gedoen het as waartoe hulle hul verbind het, dat meer as 80% van dié teiken al bereik is.