
In die aanloop tot die 2024-verkiesing kan dinge in Suid-Afrika nog moeilik raak, waarsku die politieke ontleder dr. Frans Cronjé. Hy het op Mpumalanga Landbou se onlangse kongres op Badplaas gesê boere moet nou met erns bou aan sterk gemeenskappe wat almal in hul omgewing insluit: van die sakelui op die dorp tot die inwoners van townships, godsdiensleiers en selfs taxibestuurders en operateurs. “Oproer gaan aanhou en gemeenskappe gaan soos in KwaZulu-Natal verlede jaar moet kan saamstaan om hul eiendom en plaaslike infrastruktuur teen oproeriges te beskerm.”
Hy is soos die meeste ontleders oortuig dat die ANC se dae as enkel regerende party getel is en dat Suid-Afrika in die toekoms deur ’n koalisieregering regeer sal word. Hy skryf dit toe aan die huidige regering se swak dienslewering, voortslepende korrupsie en onvermoë om ekonomiese groei te bewerkstellig en werk te skep.
Boonop meen hy die regerende party is in ’n ekonomiese hoek. “Selfs ’n onmiddellike beleidsverandering wat tot nuwe politieke besluite lei, sal nie meer as 2% ekonomiese groei kan ontsluit nie, want Eskom kan eenvoudig nie genoeg elektrisiteit opwek om ’n groeiende ekonomie moontlik te maak nie.”
Die ergste is dat die staat se koffers leeg is, terwyl staatsbesteding hemelhoog bly teenoor die geld wat beskikbaar is. “Wat ons begrotingsbalans betref, is ons nou weer so sleg daaraan toe as toe oudpres. PW Botha destyds sy Rubicon-toespraak gelewer het en waar ons was ná die Tweede Wêreldoorlog.”
Vertroue in die toekoms?
Cronjé het gesê in ’n onlangse peiling onder Suid-Afrikaners het net 20% van die respondente aangedui dat hulle nog vertroue in die toekoms van die land het. In ’n ander peiling het die meeste respondente gesê hul grootste verwagting van die staat is werkskepping, dan misdaadbekamping en derde op hul wenslys is dienslewering. “Die populistiese dinge waarop die ANC konsentreer, soos grondhervorming en bemagtiging, is amper heel onder op mense se lys van behoeftes.”
Daarom glo hy die tyd is ryp vir ’n koalisie van partye wat oor goeie ekonomiese beginsels, geregtigheid en ordelike staatsbestuur saamstem. Die oorgang gaan nie sonder probleme wees nie, maar hy het gesê dit sal nie erger of meer gewelddadig wees as enigiets wat Suid-Afrika die afgelope tien jaar beleef het nie. “Elke boer in Suid-Afrika is hier omdat hy of sy kans sien om in ’n hoërisiko-omgewing te boer, anders het julle almal al geëmigreer.”
Hy glo ’n sterk landbougemeenskap gaan in ’n goeie posisie wees om politieke druk op die nuwe koalisieregering uit te oefen om die werklike belange van die landbou te dien. Die noodsaaklikheid vir sterk gemeenskappe strek dus verder die toekoms in as net die probleme wat onluste vanweë politieke en ekonomiese onstabiliteit oor die volgende twee jaar kan inhou.