
Die landbou- en eiendomsontwikkelingsgroep Crookes Brothers sê diversifikasie van sy gewasse, plaasliggings en markte beskerm hom toenemend teen wisselvallighede weens droogte en wisselkoersskommelinge.
Crookes se wesensverdienste per aandeel het in die boekjaar tot 31 Maart 2017 met 15,8% tot 424,1c gestyg.
Die droogte het suikerriet- en piesangpryse laat styg, sodat dié afdelings 'n groot bydrae tot die algehele resultate gemaak het.
Wins en verlies
Crookes se bedryfwins het met 73% tot R125 miljoen gestyg, selfs al het sy sagtevrugte-afdeling weens onder meer die versterking van die rand 'n bedryfsverlies van R10 miljoen gely.
Mnr. Guy Clarke, besturende direkteur, sê die volgende boekjaar sal uitdagend wees omdat die droogte groot herplantings nodig maak en piesang- en suikerrietpryse onder druk sal kom met die herstel van produksie.
Reën in vanjaar se winter sal 2018 se prestasie van die sagtevrugte-afdeling bepaal.