
Dit is D-dag vir die Adelaide-vier wat op motorfietse na Kaïro vertrek om geld in te samel vir die dorp se hospitaal. Die drie boere en ’n Griek, soos hulle bekend staan, het Donderdag (31 Maart), om 06:30 van die Groenpunt-stadion in Kaapstad vertrek.
Mnr. Rufus Dreyer sê sy opgewondenheid oor die toer is die afgelope week verskeie kere deur ’n gevoel van senuagtigheid oorheers, maar hy glo dit sal goed gaan. “Ek het wel toe ek in die Kaap aangekom het ’n gevoel van rustigheid begin ervaar. Daar is maar ’n klomp emosies wat deur jou spoel, want ons families gaan daar wees om ons af te sien.”
Dreyer wil saam met mnre. Richard Bennet, Norman Emslie en Stelios Georgiou met die avontuur geld insamel vir ekstra watergeriewe by die hospitaal, wat tot R1,2 miljoen kan kos.
Interessante kulture
Dreyer sê hulle sien baie uit om in aanraking te kom met die verskillende kulture van die lande waardeur hulle sal reis. Hulle moes spesifiek vir Tanzanië, Etiopië, Soedan en Egipte vooraf visums kry, maar vir die res hoop hulle om die visums te kry soos wat hul reis voortgaan.
Die groep sal 12 665 km tydens hulle 45 dae lange reis aflê.
Enige belangstellendes wat nog geld vir die projek wil skenk, kan dit in die volgende rekening inbetaal:
Bank – Eerste Nasionale Bank
Rekeningnaam – Adelaide Hospital Board of Aid (spaarrekening)
Rekeningnommer – 60152054446
Takkode – 210119
31 Maart 2011