
Die parlementêre proses rakende die wysigings aan die Wet op Arbeidsverhoudinge en dié aan die Wet op Basiese Diensvoorwaardes het begin.
Die sake- en landbousektor het reeds gewaarsku dat werkskepping belemmer sal word deur die wysigings aan die wetgewing wat deur die kabinet goedgekeur is.
Kwelpunte is wysigings aan die Wet op Basiese Diensvoorwaardes oor sektorale vasstellings en die feit dat tydelike werkers nie vir langer as ses maande in diens geneem kan word nie, soos deur wysigings aan die Wet op Arbeidsverhoudinge voorsien word.
Mnr. Sej Motau, die DA se skaduminister vir arbeid, het gesê sy party kan nie die huidige wysigings steun nie. Dit is omdat die Departement van Arbeid nie tans in ’n posisie is om die impak van die wysigings op die Suid-Afrikaanse ekonomie te kan voorspel nie.
’n Reguleringsimpakstudie van 2010 het gewys dat 2,13 miljoen tydelike werkgeleenthede geraak sal word indien die wetsontwerpe in hul huidige vorm goedgekeur word.
Fundamentele veranderinge
Intussen is daar fundamentele veranderinge aan die wetsontwerpe gemaak, maar daar is nog nie ’n impakstudie daaroor gedoen nie. Oor die sektorale vasstellings het hy gesê dat Afdeling 55 van die wysigings die Minister vanArbeid te veel mag gee om eensydige sektorale vasstellings in te stel vir werkers wat nie onder die een of ander sektorale vasstellingsektor ingesluit is nie.
So kan die Minister dan minimum-salarisverhogings bepaal en subkontraktering verbied of reguleer.
In dié opsig wil die DA onderhandel dat daar onder meer bykomende wysigings ingestel word vir die versterking van die Kommissie vir Indiensneming (ECC) om ’n oorkoepelende sektorale vastelling te doen vir werkers wat nog nie ten opsigte hiervan gedek is nie.
Die party wil ook hê dat die duur van tydelike werk van die voorgestelde 6 maande tot 12 maande verleng moet word. Volgens die voorgestelde wysiging kan werkers slegs as tydelike werkers bestempel word as hulle nie vir langer as 6 maande in diens geneem is nie. Werkers wat langer as dié tydperk werk, moet dieselfde behandel word as diegene wat heeltyds aangestel is.
Mnr. Andricus van der Westhuizen, DA-LP, het gesê niemand kan verduidelik hoe daar by die 6 maande uitgekom is nie. Die DA sal voorstel dat Afdeling 198 (A-C) in sy geheel geskrap moet word. Van der Westhuizen het gesê die DA stel ’n selfregulerende bedryfswaghond voor wat na kwessies oor tydelike werk sal kyk.