Bygewerkte en akkurate inligting is oor die stand van dieresiektes en die hantering daarvan nodig, sê die Demokratiese Alliansie.
Me. Annette Steyn, die DA se woordvoerder vir die landbou, sê in die lig van die uitbreking van Newcastle-siekte onder hoenders in Noordwes het sy ‘n vergadering in dié verband met me. Tina Joemat-Petersson, die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, aangevra.
Luidens ‘n verklaring sê Steyn die siektes wat die bedryf die afgelope paar jaar bloots ry, was voorkombaar en kon maklik beheer word. “Gebrekkige dierebeheer word deels veroorsaak deur die departement se gefragmenteerde en onvoldoende veeartsenykundige dienste. Onbekwame bestuur namens die departement lei dus tot die vernietiging van ons landelike ekonomie en duisende se bron van inkomste.”
Volgens Steyn wag sy tans op ‘n antwoord van mnr. Lullu Johnson, voorsitter van die portefeuljekomitee vir landbou, oor wanneer die vergadering moontlik kan plaasvind.
Verloor vertroue
Steyn sê sy is baie bekommerd oor die invloed wat die voorkoms van siektes op die wêreld se vertroue in Suid-Afrika en sy uitvoerprodukte het. “Ek is bekommerd dat Suid-Afrika die vertroue van die wêreld met betrekking tot die beheer van diersiektes verloor, en as dit gebeur lê ‘n harde en moeilike pad voor om uitvoere weer hervat te kry.”
Van die siektes wat die land die afgelope twee jaar bedreig is bek-en-klouseer, Avian Influenza, Slenkdalkoors, Afrika-perdesiekte asook varkpes.
Steyn wil by die Minister weet hoeveel siektes in die land voorkom en wat gedoen word om elkeen te beveg en om die voorkoms van die siektes in die toekoms te voorkom. Verder wil Steyn weet watter koste-implikasies die siektes tot dusver vir die land ingehou het, en hoeveel geld aan boere vir hulle verliese uitbetaal is.
19 Maart 2012