Hoedspruit en die omliggende gebiede moet as rampgebiede verklaar word nadat swaar reën en oorstromings verwoesting gesaai het, aldus die Demokratiese Alliansie.
Luidens ’n verklaring het me. Desiree van der Walt, verteenwoordiger vir die party, ’n skrywe in dié verband aan me. Dipuo Letsatsi-Duba, LUR vir Landbou in Limpopo, gerig.
Van der Walt sê ’n groot klomp mense is weens die oorstromings dakloos gelaat en verskeie boere se bedrywighede is ernstig deur die oorstromings beïnvloed. “Dié situasie bedreig voedselsekerheid en mense wat in die omgewing afhanklik is van werk in die boerderysektor.”
Volgens Van der Walt moet Letsatsi-Duba vinnig optree in ’n poging om die invloed van die gebeure op die boeregemeenskap te minimaliseer.
Voorbereidings
Van der Walt sê hoewel die natuur onvoorspelbaar is, moet die provinsiale regering, insluitend die Departement van Landbou, voorbereid wees op enige gebeurlikheid.
Die provinsie is die afgelope tyd blootgestel aan erge weerstoestande met ryp wat onlangs skade aangerig het.
Intussen sê mnr. Dries Enslin, voorsitter van Agri Letaba, hy meen die Suid-Afrikaanse Weerdiens kon beter waarskuwings gerig het oor die sikloniese weerstoestande wat oor Mosambiek ontwikkel het.
“Daar was nie tydige waarskuwings teen dié swaar reën nie. Die weerberigte wat ons gekry het, het gemaan ná reënval van sowat 50 mm in ’n kort tyd.”
Enslin sê die reën het vinnig en hard geval. “Ses ure na die eerste harde druppels het die riviere afgekom.”
Waarskuwings
Mnr. Jan Vermeulen, senior en operasionele weervoorspeller, sê hulle het reeds sowat ses dae voor dié storms geweet van dié swaar reëns, en vyf dae voor die tyd is die eerste vermanings daaroor uitgestuur.
“Op dag vier is dit verander na ’n vermaning, want die weerpatroon het nader begin lyk, en twee dae voor die tyd het ons ’n ernstige waarskuwing gerig.”
Mnr. Johan van den Berg, klimatoloog van Santam Landbou, sê hy was nie bewus van enige tydige waarskuwings nie, maar die storm het nie die gewone patroon gevolg nie.
Vermeulen sê hulle verwag Vrydag steeds enkele donderbuie in die Laeveld van Mpumalanga en in die noordooste van Limpopo, maar geen swaar reën word verwag nie.
19 Januarie 2012