
Die DA het oproepe om die skep van ’n landelike veiligheid-eenheid verskerp ná twee bejaardes in ’n plaasmoord naby Westonaria vermoor is.
Hulp nodig vir landelike veiligheid
Mnr. Hannes en mev. Ester Kidson, albei 69 jaar oud, is Vrydag in ’n aanval op hul plaas Oortjies oorlede. Mev. Annette Steyn, DA-LP en woordvoerder oor landbou, bosbou en visserye, het in ’n verklaring haar skok oor die voorval uitgespreek en dit benadruk dat diegene wat in landelike gebied bly, veral boere en plaaswerkers, in besondere gevaar verkeer.
“Suid-Afrika het dringend ’n polisiëringstrategie vir landelike veiligheid nodig wat hierdie realiteit finaal in ag neem.”
Volgens Steyn is 49 plaasmoorde in 2016 by die Suid-Afrikaanse Polisiediens aangemeld. Die TLU SA reken egter die syfer is eerder 72.
Volgens Steyn het die DA al herhaaldelik gevra vir maatreëls om die krisis in landelike veiligheid te beveg.
Parlementêre ingryping
Sy het ook verwys na ’n verslag deur die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK), wat verskeie bevindings en aanbevelings gemaak het ten opsigte van misdaad in die landbougemeenskap.
Dit sluit in dat die SAPS en Nasionale Vervolgingsgesag hul betrokkenheid by die geveg teen misdaad in die landbougemeenskap moet opskerp en dat die Departement van Justisie en Konstitusionele Ontwikkeling die landbougemeenskap by sy program vir die bevordering van die regte van kwesbare groepe moet insluit.
Die DA beplan om daarop aan te dring dat dié verslag deur die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie bespreek en oorweeg word.
“Geweldsmisdaad in Suid-Afrika behoort getakel te word, sodat elke mens in ons pragtige land in vrede kan leef met die wete dat die regering alles doen wat hy kan om ons veiligheid te verseker. Die DA sal nie rus tot ons verseker dat dít gebeur nie,” het Steyn gesê.