
De Jager wat oor plaasveiligheid uit ’n boerderyoogpunt gepraat het op ’n konferensie van AfriForum oor regsadvies en oplossings vir die talle veiligheidskwessies van mense in landelike gebiede, het gesê daar is ’n politieke angel wat plaasaanvalle anders maak.
“Dit is baie belangrik om dinge op die naam te noem en te sê waaroor dit gaan. Daar is iets anders aan plaasmoorde. ’n Mens sou kon sê daar is sekerlik per capita meer moorde op die Kaapse Vlakte, maar voor daardie moorde gepleeg word, is daar nie oproepe daarvoor nie. Niemand sing op ’n politieke vergadering ‘kill a Cape Flats gangster’ soos wat daar gesing word ‘kill a farmer’ nie. Wanneer daardie moorde plaasvind, gaan dit ook nie gepaard met dieselfde wreedheid en marteling nie en ná die tyd is daar nie applous op sosiale media nie. Plaasaanvalle is nie dieselfde as ander aanvalle nie.”
De Jager het gesê namate boere staatsfunksies moet oorneem soos om slaggate in die pad reg te maak, moet hulle ook die funksie van plaasveiligheid hanteer, wat eintlik die staat se rol is. “Dit is net hel om die staat se werk te doen sonder om die staat se inkomste te verdien. Ons het nie die behoorlike toepassing van ’n landelike veiligheidsplan nie, want daar is nog nie die politieke wil om dit te doen nie.”
De Jager het gesê hy het die afgelope vyf jaar 76 nasionale landbou-unies op ses vastelande toegespreek en het nooit nagelaat om na plaasveiligheid te verwys nie. Hy beklemtoon dat die internasionale wêreld aan die Suid-Afrikaanse boere se kant is. “Ons het dit reggekry om ons boodskap oor te dra. Dit is belangrik dat ons in die wêreld ons stem laat hoor hieroor sodat ons druk kan uitoefen om die situasie in Suid-Afrika te probeer verbeter.”
Elke plaas is ’n unieke eenheid en die plaasveiligheid verskil van plaas tot plaas. Daarom hang dit baie van die boer self af om sy plaas te beveilig: van ’n veilige vesting binne sy huis af, tot sy werf, sy plaas en die hele omgewing saam met sy bure. Daar moet ’n gebeurlikheidsplan vir alles wees.
Noodweer
Adv. Francois Kriel, strafregkenner wat by die konferensie oor selfverdediging en noodweer gepraat het, het gesê enige mens het die reg om hom teen ’n onregmatige aanval te verdedig. Gewoonlik as in noodweer opgetree word, is dit om ’n lewe te beskerm, maar jy mag ook jou eiendom regmatig beskerm, of in noodweer optree om te verhinder dat iemand jou eiendom betree of in noodweer optree om brandstigting te voorkom.
Hy het gesê die aanval teen jou moes reeds begin het of dit moet onmiddelik dreigend wees, daar moet die minimum geweld wees om die aanval af te weer en as jy kan wegbeweeg sonder om jouself in gevaar te plaas, doen dit eerder. “Die maklike toets in ’n noodweersituasie is om jouself af te vra wat sou die redelike persoon in hierdie situasie doen. As jou antwoord in daar breukdeel van ’n sekonde is dat die redelike man teen die aanvaller sou optree, kan jy aanvaar dit is regmatig om jouself te verdedig.”
Kriel het gesê as iemand gedwing is om in noodweer ’n vuurwapen te gebruik, moet hy is eers seker maak die toneel is veilig en sy geliefdes is veilig, dan die nooddienste kontak en op die toneel bly. “Moet nooit om enige rede aan die toneeel peuter nie en kry bystand van ’n regsverteenwoordiger voor jy ’n verklaring aan die polisie aflê.”
Mnr. Raymond Hohls, waarnemende hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het van die jongste plaasaanvalstatistieke bekend gemaak. Hy het gesê van Mei vanjaar tot einde Julie het 81 plaasaanvalle plaasgevind waarvan hulle bewus is. Hiervan was 20 in Gauteng, 11 in KwaZulu-Natal, 3 in Limpopo, 8 in Mpumalanga, 1 in die Noord-Kaap, 7 in Noordwes, 11 in die Oos-Kaap, 15 in die Vrystaat en 5 in die Wes-Kaap.
“Ons kan ook bevestig dat in hierdie 81 plaasaanvalle oor drie maande daar minstens 124 slagoffers was waarvan 15 vermoor is, terwyl daar ook 48 pogings tot moord was. Daar was minstens 218 aanvallers betrokke by hierdie aanvalle, waarvan slegs 18 aangekeer is. Dit is eintlik skrikwekkend. Van die aanvallers was 142 (65%) te voet toe hulle die misdade gepleeg het en minstens 40% van hulle het vuurwapens gebruik om die aanvalle uit te voer.”