
Na 'n arbeidsgeding tussen dr. Johan van Rooyen, staatsveearts en senior dosent by die Landbou-Ontwikkelings-instituut Grootfontein, en die Departement van Landbou, Bosbou en Visstery (DAFF) vir amper 'n jaar voortgesleep het, is Van Rooyen eindelik terug in die klaskamer.
Van Rooyen is op 21 Julie verlede jaar geskors te midde van 'n dispuut tussen die PSA-vakbond (Public Servants Association) en die National Education, Health and Allied Workers Union (Nehawu) op die kampus. Die dispuut het te doen met 'n ondersoek oor die bestuur van troppe en kuddes by Grootfontein. Van Rooyen is die voorsitter van die PSA op die kampus.
Jaarlange stryd
Van Rooyen is sedert 6 Julie terug in sy pos, ná hy effektief 'n skorsing van drie maande uitgedien het. Die saak het egter amper 'n jaar gevat om tot ‘n punt te kom en intussen moes studente by die landboukollege sonder Van Rooyen se kennis en insette oor die weg kom.
Studente by die kollege het in Augustus protes aangeteken teen wat hulle beskou as swak dienslewering en die konflik tussen die vakbonde op die kampus.
“Ek gee al my vakke soos voorheen en het dieselfde verantwoordelikhede. Ek hervat dus my werk net weer waar ek dit het ‘n jaar gelede gelos het," sê Van Rooyen.
Volgens Van Rooyen het die taakspan wat beweerde korrupsie met die bestuur van die troppe en kuddes moet ondersoek ook 'n jaar later steeds geen verslag bekend gemaak nie.
“Dit is sover 'n mors van geld. Hoeveel duisende rande het dit nie gekos om al daardie mense af te vlieg en die ondersoeke te doen nie en dit het nog niks opgelewer nie."
Sake teen DAFF
Die nasleep van die skorsing sluit in verskeie sake wat Van Rooyen teen DAFF by die Staatsdiensbemiddelingsraad aanhangig gemaak het.
Dit is onder meer 'n dispuut oor die beweerde onbillikheid van sy skorsing en 'n dispuut oor sy skorsing van drie maande sonder 'n salaris.
Volgens Van Rooyen het hy ook 'n aansoek onder die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) gedoen om sy vermoedens te staaf dat DAFF toegang gekry het tot e-posse wat hy van sy persoonlike rekenaar af na 'n kollega by Grootfontein gestuur het.
“Ek is besig met die aksie om uit te vind wie in my e-posse rondgekrap het en dit onwettig teen my gebruik het in my dissiplinere verhoor,” se hy.