
Boere wat aan DairyBelle melk lewer is twee maande gelede ingelig dat pryse aan hulle met tussen 50c en 75c per liter gaan daal. “Intussen sit boere angstig en wag om te hoor of die maatskappy enigsins weer ’n verhoging gaan instel,” aldus mnr. Koos Pienaar, voormalige voorsitter van die Melkprodusente-organisasie in die Vrystaat.
Hy sê minimale kommunikasie vind tans tussen die maatskappy en boere plaas. Van die boere raak baie ongeduldig omdat hulle verliese moet absobeer.
Verlaat
Pienaar sê in dié stadium is hy nie bewus van melkboere wat die bedryf weens die prysverlaging verlaat het nie. “Maar hoe langer die situasie sloer, hoe meer boere gaan moet onttrek.”
Hy sê dit is tans die “verkeerdste tyd” om die bedryf weens die lae melkpryse, asook lae pryse vir koeie en vleis, te verlaat.
Leiding
’n Oplossing wat Pienaar voorstel, is dat instansies – soos banke – meer leiding aan boere moet bied. “Die ouens raak keelvol daarvoor dat boere geboelie word deur melkkopers, en die hele situasie maak ’n mens bekommerd.”
Pienaar sê die korporatiewe wêreld, insluitend banke en landboufakulteite by universiteite, kan aan boere leiding gee oor “hoe om meer korporatief te dink.”