
Noordwes se damme wat deur die departement van waterwese en sanitasie bestuur word, is 81% vol, in Limpopo staan die provinsiale damme se totale waterinhoud op 89% en Mpumalanga het byna 96% van sy totale waterkapasiteit opgevang.
In Noordwes is die Boskop-, Bospoort-, Buffelspoort-, Elandskuil-, Johan Neser-, Klerkskraal-, Klipvoor-, Marico-Bosveld-, Middelkraal-, Potchefstroom-, Rietspruit-, Roodekopjes-, Swartruggens- en Taungdam almal 100% of meer vol. Hartebeespoort-, Sehujwane- en Vaalkopdam is meer as 90% vol. Van die damme in die provinsie se vlakke is egter volgens die departement kommerwekkend laag. Disaneng-, Klein Maricopoort-, Kosterrivier-, Madikwe-, Ngotwane- en Molatedidam se vlakke is almal laer as 50%.
In Limpopo is daar aansienlik meer damme wat 100% en meer vol is. Albasini-, Dap Naude-, Doorndraai-, De Hoop-, Ebenezer-, Flag Boshielo-, Glen Alpine-, Hans Merensky-, Klaserie-, Luphepe-, Magoebaskloof-, Mokolo-, Mutshedzi-, Nandoni-, Nwanedzi-, Nzhelele-, Rust de Winter-, Tzaneen-, Vergelegen-, Vlugkraal-, Vondo- en Warmbaddam is almal tans besig om oor te loop of water word uitgelaat omdat die damme vol is. Een van die damme waar water tans uitgelaat word omdat dit meer as 100% vol is, is die Doorndraaidam tussen Mokopane en Mookgophong in die Sterkrivier. Hierdie dam was 14 jaar laas vol en het verlede jaar hierdie tyd net 40% water in gehad.
In Mpumalanga lyk dit nóg beter met enkele damme in die provinsie wat nie 100% vol is en oorloop nie. Middelburg-, Morgenstond-, Nooitgedacht- en Westoedam is almal tussen 96% en 99% vol en Inyakadam se vlak staan op 86%. Net twee damme in die provinsie het minder water as dit: Ohrigstaddam staan op 50% en Rhenosterkopdam op 46%.
Munisipale probleme
Terwyl die hoë watervlakke in damme vir die landbou goeie nuus is, sukkel baie munisipaliteite in al drie provinsies steeds om voldoende water vir inwoners van dorpe en stede te voorsien. In Phalaborwa het water in inwoners se krane onlangs opgedroog ondanks damme wat oorloop.
Me. Rachel Longster, voorsitter van die dorp se gemeenskapsorganisasie, Let’s Change Ba-Phalaborwa, blameer korrupsie en roekelose munisipale bestuur vir die situasie. In ’n verklaring verduidelik sy dat dit die munisipaliteit se verantwoordelikheid is om water aan die dorp se inwoners te voorsien, maar dat die munisipaliteit water vanaf die distriksmunisipaliteit Mopani kry, wat op sy beurt water van Lepelle Water af aankoop. Dit is Lepelle wat watervoorsiening aan Phalaborwa se inwoners en besighede nou beperk omdat albei munisipaliteite agterstallig is met betalings.
In dorpe soos Mokopane en Mookgophong hoor inwoners al jare lank dat beurtwater toegepas word omdat Doorndraai- en Frikkie Geyser-dam se vlakke laag is, maar noudat die damme oorloop, is krane in die dorpe steeds ure lank elke week sonder water.
In Noordwes is daar talle soortgelyke voorbeelde. Brandweerwaens het byvoorbeeld onlangs sonder water by ’n brand in Koster opgedaag en private persone het aangebied om water uit hul boorgate te pomp om die vuur te help blus.
Longster sê haar organisasie het ’n beroep op die minister van water en sanitasie en die minister samewerkende regering, behuising en tradisionele sake gedoen om in te gryp in die bestuur van munisipaliteite se waterbestuur, maar het tot dusver geen reaksie gekry nie.