
'n Databank van boere se suksesvolle projekte sal aan ander boere voorbeelde bied om uit te leer, het mnr. Hans van der Merwe, uitvoerende direkteur van Agri SA, op die organisasie se jaarkongres buite Pretoria gesê.
Die ontsluiting van finansiering vir sulke projekte is egter belangrik omdat daar dikwels by boere die wil is om betrokke te raak, maar die finansiering is 'n probleem. 'n Breë maatskaplike kontrak moet gesluit word om finansiering te vind.
Soos die landbou oor grond ‘n verstandhouding met die staat moet kry, so moet ook 'n akkoord bewerkstellig wees met die verskeidenheid owerhede betrokke by maatskaplike kwessies, het Van der Merwe gesê.
Me. Delene Möller, vrou van mnr. Johannes Möller, herverkose voorsitter van Agri SA, het aan kongresgangers vertel hoe sy in die Noord-Kaap ‘n projek begin het om plaaswerkers se vroue in ondernemerskap te laat oplei. “Ons het iets buite die landbou nodig om inkomste na die platteland te bring,” het sy gesê.
Volgens Van der Merwe is daar “ ‘n rykdom van talent in boerevrouens”. Met sulke projekte word menswaardigheid bevorder en 'n hele gemeenskap opgehef.
Mnr. Anton Rabe, uitvoerende direkteur van Hortgro, het kongresgangers van verskeie korporatiewe maatskaplike beleggingsprojekte in die vrugte- en wynbedrywe vertel. Dit sluit programme in om werkers te bemagtig oor die gevare van middelmisbruik asook opleiding in lewensvaardighede.
Rabe het gesê werkers word op studiereise en na oorsese uitstallings geneem in ‘n poging om hul visie te verbreed. “Dit is ongelooflik om te sien hoe daardie individue ná sulke blootstelling groei.”
In die laaste twaalf maande is R9 miljoen op sulke projekte bestee.
Volgens berekenings het een boerdery sowat 5% van sy omset op korporatiewe maatskaplike beleggingsprojekte bestee, oftewel R9 800 per werker. Dit sluit uitgawes soos mediese dienste en vervoer in.