
Strafregtelike klagte is teen owerhede in Mpumalanga en Limpopo gelê nadat vee op ’n proefplaas en by ’n museum erg verwaarloos is.
Altesaam 37 beeste moes die afgelope week by die Muti Wa Varonga-opelugmuseum tussen Phalaborwa en Tzaneen van kant gemaak word. Dít het gevolg nadat die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) ’n hofbevel gekry het om beslag te lê op die beeste wat by die museum aangehou is.
Luidens ’n verklaring wou die vereniging die diere van die perseel verwyder sodat hulle versorg kon word, maar al die diere was te swak en daar is besluit om hulle “van hul lyding te verlos.”
Die redes wat vir die diere se toestand aangevoer is, was dat die museum nie genoeg voer vir die diere gehad het nie. Strafregtelike klagte ingevolge die Dierebeskermingswet (Wet 71 van 1962) sal teen die betrokke staatsdepartement en die museum aanhangig gemaak word, aangesien die DBV meen die situasie kon voorkom word. Dit het onnodige lyding veroorsaak en kan nie regverdig word nie.
Athole-proefplaas
Intussen is strafregtelike klagte teen die LUR vir landbou, landelike ontwikkeling en grondadminstrasie en die betrokke departement gelê weens die verwaarloosing van vee op die Athole-proefplaas in Mpumalanga.
Die DBV is verlede week na die plaas ontbied, waar die karkasse van 48 dragtige Drakensberger-stoetkoeie, wat weens honger en dors gevrek het, gevind is. Die owerhede en plaaspersoneel is opdrag gegee om voldoende voer en water aan die res van die diere op die proefplaas te verskaf.
Die derde strafregtelike klag is teen die bestuur van ’n plaas naby Villiers gelê weens verhongerde diere op dié plaas. Luidens ’n vroeëre berig op Landbou.com is die vee-eienaar en veearts oor die toestand van sowat 300 stuks vee gewaarsku. Altesame 236 beeste is op ’n stuk grond aangehou waar nie genoeg voeding beskikbaar was nie, terwyl verdere bewerings van 60 ander beeste wat erg ondervoed was, aan die lig gekom het.
Die eienaar en veearts moes met die bemiddelling van die Polisie inligting oor die toestand van die diere aan die DBV verskaf, waarna besluit is om met die vervolging voort te gaan.