Die De Hoop-projek langs die R62 gaan eersdaags ‘n nuwe amfiteater en ‘n karootuin bykry.
Altesaam R200 000 is deur die Wes-Kaapse departement van landelike ontwikkeling aan die Klein Karoo Agri Besigheidsentrum gegee om ‘n nuwe 40-sitplek amfiteater en ‘n karootuin by die sentrum te ontwikkel.
Agri Klein Karoo (AKK) bedryf nou die projek as deel van ‘n nuwe gemeenskapsentrum met die Klein Karoo Agri Besigheidsentrum (KKABC).
Mnr. Gerrit van Rensburg, minister van landbou en landelike ontwikkeling, wat die geld oorhandig het, sê die beskikbaarstelling van die geld is daarop gemik om die landelike inwoners se lewensgehalte te verbeter.
Volgens mnr. Piet Lodder, van Agri Klein Karoo, is planne vir die oprigting van die teater en die tuin reeds goedgekeur. “Ons het ‘n kontrakteur aangestel wat werkloses in die gebied oplei om die terrein vir ontwikkeling te begin voorberei. Daar sal binnekort met die vestiging van die amfiteater en die tuin begin word.”
Die amfiteater sal periodiek ‘n verskeidenheid produksies van professionele- en amateurkunstenaars huisves, terwyl dit aanliggend tot die historiese De Hoop-kerk ook vir ander gemeenskapsbehoeftes, soos massatroues en ander funksies, bespreek sal kan word.
In die beplanning van die jaarlikse Absa KKNK en vir Klein Karoo Klassique sal die kerk gebou ook vir gehoorontwikkelings-, kontreiprogram- en ander produksies vir kunstefees en klassieke musiekfees-uitvoerings oorweeg kan word.
11 Oktober 2010