
De Jager was die genooide spreker op Agri Witzenberg se streeksvergadering op Ceres. Hy het ’n beroep op banke gedoen om keel skoon te maak oor die Regering se huiwering om markwaarde vir grond te betaal.
“As ons almal (die produsente) een of twee plase gaan verloor, gaan die banke ál hul plase verloor,” het hy gesê. “Dit is nodig dat die banke opstaan en sê daar kan nie aan die sekerheid van grondbesit gekarring word nie.”
Krisis
De Jager beskou die skrapping van die beginsel van ’n gewillige verkoper en ’n gewillige verkoper as die grootste krisis ten opsigte van grondhervorming. “Dit gaan nie oor jou reg nie, maar oor die feit dat Regering huiwerig is om markwaarde te betaal. Dit is ’n politieke ding. Tussen die reëls word geskree: ‘Julle (wit boere) het die grond gesteel en ons moet dit terugvat!’ Hulle gaan nie die terugvat-gevoel kry as markwaarde vir grond betaal word nie. Dit is nie die boere wat die pryse opjaag nie, maar almal tussen-in.”
As produsente egter nie teen markwaarde vir hul grond vergoed word nie, klap banke se deure vir hulle toe. Dit strek ook tot nadeel van begunstigdes uit bemagtigingstransaksies. “Dit is ook een van die redes waarom begunstigdes sukkel om finansiering te kry. As die staat nie markwaarde betaal nie, kan landbougrond nie as kollateraal vir finansiering dien nie.”
Hy is ook nie gelukkig met die voorgestelde grondplafonne nie. “Ons baklei hand en tand hierteen omdat 80% van die kos op rakke in Suid-Afrika deur 20% van boere af kom. Die groot ouens gaan die seerste kry as die voorstel werklikheid word.”