Dit sal hom nie verbaas as plaasbesettings voor die einde van die jaar in Suid-Afrika voorkom nie, het dr. Theo de Jager, ondervoorsitter van Agri SA, op die simposium van Suid-Afrikaanse Varkvleisprodusente-organisasie (Savpo) op Muldersdrif gesê.
Dit sal die gevolg wees van grootskaalse mislukkings met grondhervorming, want net 5% van die mikpunt is reeds bereik om 30% van landbougrond na swart mense oor te dra, terwyl 90% van die projekte wat wel oorgedra is, as ’n mislukking bestempel word. Dus het grondhervorming nie gewerk nie, maar groot verwagtinge is by swart mense geskep.
De Jager sê grondhervorming het ook in Zimbabwe misluk, maar Suid-Afrika kan minstens daaruit leer hoe dit nié gedoen moet word nie. Daar het die staat se geld opgeraak, daar was geen koördinering tussen grondoordrag en boerontwikkeling nie, mediavryheid is aan bande gelê en produksie het gedaal.
Die groot verskil in Suid-Afrika se geval is dat die regerende ANC nie nou by die stembus bedreig word nie en dat die regstelsel nog regverdig is. Die media speel hier ook nog ’n sterk rol om onwettighede te openbaar.
In ander lande waar grondhervorming met welslae toegepas is, is daar gemeenskaplike elemente, waaronder ’n omvattende databasis vir grond en gesonde administrasie wat nie in Suid-Afrika voorkom nie.
Lees meer in Landbouweekblad se uitgawe van 1 Oktober 2010.
28 September 2010