
Suid-Afrika kan deur die onsekerheid breek wat tans in Suid-Afrika voorkom na “kalmer waters,” sê oudpres. FW de Klerk.
Tydens ’n konferensie wat die FW de Klerk-stigting onlangs oor Suid-Afrika se beleidsrigting in Johannesburg aangebied het, het De Klerk opgemerk dat die ideologieë en beleidskwessies wat tans bespreek word, nie geïgnoreer kan word nie.
De Klerk sê hy glo daar is baie ANC-lede wat afgevaardigdes by die party se beleidskongres in Bloemfontein sal wees wat saamstem met die Nasionale Beplanningskommissie (NBK) se voorstelle oor Suid-Afrika se pad vorentoe. Hy hoop verder dat afgevaardigdes by die kongres die belangrikheid van hul besluite sal besef, aangesien dit die land se toekoms sal bepaal.
Twee keuses
Volgens De Klerk staan die party voor twee keuses by sy kongres. Een is om die voorgestelde pad van die NBK te kies, wat die uitdagings in die land wil aanpak en ekonomiese groei wil bevorder. Die tweede is om die pad van die Nasionale Demokratiese Revolusie (NDR) te kies, wat in sy tweede oorgangsfase verskeie radikale voorstelle voorop stel.
“Ek glo die NBK stel ’n visie voorop vir ’n toekoms waarmee almal kan identifiseer,” het De Klerk gesê.
De Klerk moedig alle Suid-Afrikaners aan om in die komende maande voor die ANC se kongres deel te raak van die nasionale debat van die land se beleidsrigting. “Die toekoms van ons land en 'n nie-rassige regverdige samelewing hang daarvan af.”