Dit is vir hom hartseer dat Suid-Afrika se landbou ná 17 jaar van demokrasie nog nie op nasionale vlak verenig is nie, sê mnr. Jannie de Villiers, hoofbestuurder van Graan SA.
De Villiers het gepraat op ’n prysuitdeling van die organisasie se boer-ontwikkelingsprogram in Bloemfontein.
'Tot vyf verskillende groepe'
“Ons werk hard daaraan om dit reg te stel. Dit is onaanvaarbaar dat die Regering, wanneer hy met boere wil praat, met tot vyf verskillende groepe moet praat. Ons kan mos nie verwag dat dit vrugte sal afwerp nie,” het De Villiers gesê.
Hy het vertel van ’n video wat Graan SA by skole wys om kinders te leer wat boere (swart en wit) vir die land beteken. Een swart kind het opgemerk dat hy toe vir die eerste keer besef het dat ’n boer “nie ’n wit ding is nie”.
De Villiers het bygevoeg dat dit Graan SA se visie is om ál die boere in sy ontwikkelingsprogram tot kommersiële boere te verhef en deel van die hoofstroom-ekonomie te maak.
“Vandag is soos ’n oesdag vir my. Tien jaar gelede het ek nie gedink ons sal hierdie oes hê nie,” het hy aan die saal vol swart boere gesê.
Erkenning
Op die prysuitdeling is vier nuwe lede elk tot die ontwikkelingsprogram se klubs vir 250 ton en 500 ton (vir boere wat die eerste keer 250 ton of 500 ton of méér geproduseer het) gevoeg.
Dié klubs is vier jaar gelede begin om erkenning te gee aan boere wat in die ontwikkelingsprogram vorder. Die klub vir 250 ton het nou 30 lede, die klub vir 500 ton het 18 lede en die klub vir 1 000 ton het tien lede.
Mnr. Thulane Mduduzi Mbele van Harrismith is as die program se Kleinboer van die Jaar aangewys, in die kategorie vir boere wat op 10 ha of minder tot 250 ton graan produseer. Die program se Bestaansboer van die Jaar is mnr. Mfaniseni Alpheus Mnculwane van die Loskop-gebied in KwaZulu-Natal.
2 September 2011