
Mnr. Carlo Andries Voigt, ’n boer van Uitenhage, het Woensdag in die landdroshof in Uitenhage verskyn op klagte van opsetlike saakbeskadiging, die onwettige afvuur van ’n vuurwapen en oortredings van die Dierebeskermingswet.
Voigt het na bewering agt vrylopende beeste, wat aan 'n onbekende party behoort het, op sy grond doodgeskiet en drie ander gewond. Voigt is met ’n waarskuwing vrygelaat onderwyl die polisie die saak ondersoek en hy moet op 4 Julie weer in die hof verskyn.
Dié voorval het tot ’n lewendige debat onder Landbou.com se lesers gelei.
Skut
Mnr. Jurie Anatius Blanche sê vrylopende beeste behoort nie geskiet te word nie, hoewel dit ’n ope vraag is of ’n skut in Voigt se omgewing beskikbaar is.
“Drade word gesteel en sodoende loop beeste rond. Wette word nie toegepas nie. Ons moet egter nie in die hande van die Regering speel en rasse-aanvalle maak nie. Ons moet op die grond, in die gemeenskap, met mekaar praat want ons moet met mekaar saamleef,” sê Blanche.
Mnr. N.C. Schoombee waarsku teen die gevare wat dié beeste vir ’n boer se eie diere inhou.
“Brusselose en ander oordraagbare siektes kan die boer vernietig. Dit is ’n baie ernstige saak en ek sou dalk dieselfde opgetree het as die diere my kudde, wat my brood en botter is, bedreig het.”
Verskeie ander kommentators het genoem dat die wet ruimte laat vir ’n boer om self die beeste op sy eiendom te skut.
Wetgewing
Mnr. Kobus Breytenbach, voorsitter van Agri SA se landelike beveiligingskomitee, waarsku boere daarteen om die reg in eie hande te neem.
“Kom ek draai die prentjie om, as iemand jou diere skiet, wat gaan jy maak? Daarom het Suid-Afrika voldoende wetgewing oor hoe om die situasie te hanteer. Om die reg in eie hande te neem is nie die antwoord nie.”