
Tyd sal volgende week in die Nasionale Vergadering afgestaan word om oor plaasmoorde te debatteer, waaraan die landelike gemeenskap voortslepend onderwerp word.
Dit kom nadat me. Baleka Mbethe, Speaker van die Nasionale Vergadering, die debat goedgekeur het wat deur die VF Plus aangevra is.
Volgens dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het die Speaker eers die debat afgeskiet omdat sy dit nie as dringend beskou het nie, maar sy het nou haar besluit omgekeer.
Onlangse misdaadstatistiek
Onlangse misdaadstatistiek dui aan dat daar nie ’n dramatiese afname in plaasmoorde is nie. Amptelik is 46 plaasmoorde vir nege maande van die 2016/’17 geldjaar gepleeg. Dit is vier moorde minder as die vorige geldjaar. Maar nie-amptelike syfers toon reeds dat net in Februarie vanjaar reeds 17 moorde gepleeg is.
Groenewald het gesê hy het met die speaker hieroor vergader en sy het toegegee dat ’n debat dringend en in die openbare belang is.
“Die speaker is daarop gewys dat dit nie net wittes is wat hierdeur geraak word nie, en dat die moorde en aanvalle ernstige gevolge inhou vir die veiligheid van die land in terme van voedselsekuriteit, die stabiliteit van die arbeidsmark en ekonomiese ontwikkeling in die algemeen.
Moordsyfer vir boere
“Wit én swart word aangeval en vermoor. Die moordsyfer van 133 boere uit elke 100 000 mense raak almal in die land."
Hy het ook uitgewys dat die nasionale polisiediens nie daarin slaag om sy landelike beveiligingsplan doeltreffend uit te voer om landelik gebiede en die boeregemeenskap in die besonder te beskerm nie.
* 'n Petisie oor plaasmoorde is in Maart 2010 op Landbou.com aangebied. Die petisie is daarna aan die voorsitter van die parlementêre komitee oor polisie oorhandig, wat dié komitee byeengeroep het om dit te bespreek. Dié bespreking het op 21 April 2010 plaasgevind.