
Sowat 70% van die Vrystaat se teerpaaie en 90% van die provinsie se grondpaaie is in ’n swak toestand.
Herstelwerk wat behoorlik onderneem word en gedoen word, kan tot 20 jaar duur en sowat R20 miljard kos. Dit is van die stellings van mnr. Butana Khompela, die provinsie se LUR vir polisie, paaie en vervoer, op vrae van die Demokratiese Alliansie (DA) in die wetgewer.
Luidens ’n berig in die Volksblad sê Khompela ’n padopname wat in November verlede jaar voltooi is, dui daarop dat 40% van die provinsie se 6 370 km teerpad in ’n baie swak toestand is. ’n Verdere 24% word geklassifiseer as sleg, met 6% wat as “onrybaar” is. Slegs 5% is in ’n goeie toestand, met 17% wat as gemiddeld geklassifiseer is.
Sowat 70% van die 22 197 km grondpad is baie sleg, met slegs 2% wat as goed gekwalifiseer kon word.
Omvattende plan
Volgens Khompela het die departement ’n omvattende 20 jaar plan om die provinsie se paaie teen R20,06 miljard te herstel. Die nasionale Departement van Vervoer en die Tesourie word ook by die plan betrek.
Die 23 paaie wat voorheen aangedui is as dié wat dringend herstel moet word, geniet steeds voorrang, en vier padherstelprojekte is tans onderweg.
Mnr. Henk Vermeulen, hoof uitvoerende beampte van Vrystaat Landbou (VL), sê die toestand van paaie stoot boere se produksiekoste op en raak voedselsekerheid. Hy sê weens die swak paaie wil sommige kontrakteurs nie meer oeste op plase gaan haal nie en ander stoot hul vervoerkoste op.
Vermeulen het in Mei vanjaar aan Landbou.com gesê dat hulle aan die staat voorgestel het dat boere begunstigdes van die staat gemaak word sodat hulle self kan sorg dat grondpaaie in stand gehou word. Lees meer hier.
Bron: Volksblad