
Sowat 30 maande nadat ’n plaasbestuurder van Tzaneen deur vermoedelik drie aanvallers in sy huis aangeval en doodgeskiet is, is een van die mans lewenslange tronkstraf opgelê.
Die 39-jarige mnr. Slow Rodgers Makhuvele is die enigste verdagte wat in verband met die moord aangekeer is.
Luidens ’n berig in die Letaba Herald was Dunn die nag van 27 Februarie 2010 alleen tuis toe die voorval op die plaas Constantia plaasgevind het. Hy het na bewering onraad vermoed terwyl hy televisie gekyk het en het sy vuurwapen uit die kluis gehaal. Hy is vermoedelik onverhoeds in die kombuis deur die drie verdagtes betrap.
Volgens die berig het Dunn skote afgevuur en Makhuvele getref. Die drie mans het egter ook op Dunn geskiet. Sy vrou, Tania, en ’n buurman, mnr. Louis Lingenvelder, het op Dunn se liggaam afgekom. Hy het vier skietwonde gehad.
50 jaar
Makhuvele is verlede week 25 jaar tronkstraf opgelê vir die moord. Verder het hy 15 jaar tronkstraf ontvang vir roof met verswarende omstandighede. Onderskeidelik sewe jaar en drie jaar is tot die vonnis gevoeg vir aanklagte van die onwettige besit van ’n vuurwapen en die onwettige besit van ammunisie.
Kol. Ronel Otto, woordvoerder vir die polisie, sê die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word. Geen melding word gemaak van die twee ander verdagtes in die saak nie.
Bron: Letaba Herald