
Sy jaarlikse beplanning is die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling se een kans om planne en begrotings vir die komende jaar saam te stel en die nodige regstellende maatreëls toe te pas. Tog volg die departement steeds dieselfde generiese proses, sê mnr. Noko Masipa, DA-LP.
Masipa sê die departement se begroting van R17,3 miljard, wat me. Thoko Didiza, minister van die departement, gister ter tafel gelê het, pak geen van die nuwe en kommerwekkende bedreigings soos diere- en plantesiektes of institusionele gebreke by Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) aan nie.
Daar is ook volgens hom nie genoeg geld vir biosekerheid beskikbaar nie. “Die uitbreking van bek-en-klouseer het die landbousektor in 2011 sowat R6 miljard gekos. Die land het sy bek-en-kouseervrye status in 2014 teruggekry, maar in 2019 weer verloor teen ’n koste van R10 miljard vir die ekonomie. Terwyl die landbousektor hom weer voorberei het vir die herstel van sy bek-en-klouseervrye status, is nog 56 gevalle van die siekte reg oor die land aangemeld.
“Waarom het ons jaarlikse beplanning as dit nie probleme in die landbousektor in ag neem nie?”
Die departement het volgens Masipa weer sy onbekwaamheid duidelik gemaak toe die Oos-, Noord- en Wes-Kaap een van die ergste sprinkaanuitbrekings in jare gehad het en daar kwessies was met die betaling van die spuitspanne, ’n tekort aan insekdoder, asook ondoeltreffende beskermende kleredrag en toerusting.
“Verder laat die OBP ons boere in die steek. Boere kla gedurig oor die tekort aan entstowwe by die OBP. Op 1 Junie moet perde ingeënt word en daar is steeds geen aanduiding of die OBP voldoende entstowwe teen Afrika-perdesiekte sal kan verskaf nie.”
Hy sê die meesterplan vir die landbou en landbouverwerking wat gister onderteken is, is nooit aan die parlement voorgelê nie, buiten aan lede van die ANC-studiegroep. “ ’n Gevaarlike presedent word gestel waar lede van die portefeuljekomitee net gebruik word om die ANC-kaders se studiegroep se planne deur te voer.
“Die DA steun die samewerking tussen die staat en maatskaplike vennote, asook die private sektor om die ekonomie te transformeer en te laat groei. Ons steun egter nie die onverskillige, seremoniële planne wat niks vir boere beteken nie.”
Grondhervorming
Me. Annette Steyn, die DA se skaduminister vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, sê dit is volgens vorige hofsake oor mislukte grondhervormingsprojekte duidelik dat die verdeling van grond nie verbeter het sedert Suid-Afrika ’n demokrasie geword het nie.
“Boere en gemeenskappe beaam dat die stadige pas van grondhervorming weens die regering se verskeie mislukkings is, spesifiek ’n gebrek aan kapasiteit in die departement, ondoeltreffende monitering en evaluering, asook ’n gebrek aan politieke wil en leierskap.
“Volgens ’n geskrewe antwoord van min. Didiza is haar departement die beskermheer van 10,4 miljoen ha grond, waarvan die afgelope vyf jaar net 112 000 ha oorgedra is en 1,29 miljoen vir huurooreenkomste beskikbaar gestel is.”
Dat die departement 20,6% van sy totale begroting op administrasie bestee, die tweede grootste toewysing in die begroting vir die 2022-’23-boekjaar, word volgens Steyn nie weerspieël in die departement se dienslewering nie. “Die aanhoudende chaotiese bestuur van grondadministrasie en deurlopende onderprestasie op doelwitte is ’n regstreekse weerspieëling van die departement se swak strategiese leierskap.
“Die mislukking van grondhervorming is nie weens grondwetlike tekortkominge of ’n gebrek aan finansiering om grond te koop nie. Ons benodig politieke wil om grondtransformasie te bewerkstellig. Ons moet sekerheid kan bied dat eiendomsregte beskerm sal word en dat daar vir onteiening die behoorlike proses sal volg en voor vergoed sal word.”
Sy sê dit is belangrik dat toegegee moet word dat die oordrag van grond alleenlik nie die ekonomiese sukses van ’n landbou-onderneming sal verseker nie.