
’n Gesloer met die uitbetaling van sowat R200 miljoen vir grond wat die staat vir grondhervormingsdoeleindes aangekoop het, het gelei tot die “mors” van staatsgeld van sowat R85 000 per dag. Dít is deur die Appèlhof aangedui tydens ’n beslissing oor ’n aansoek om appèl aan te teken teen die uitbetaling van rente op dié transaksie.
Die aanvanklike transaksie is in 2009 met 15 grondeienaars in Mpumalanga aangegaan. Die Demokratiese Alliansie (DA) sê volgens ’n verklaring dié geld is egter eers in Julie 2010 uitbetaal, en die staat het geweier om rente te betaal vir die maande wat dié uitbetaling gesloer het.
Die eienaars het hulle daarna tot die Noord-Gautengse Hooggeregshof gewend, wat ’n aansoek om strafbare rente goedgekeur het. Die staat het egter appèl teen dié bevinding aangeteken, en vyf regters van die hoogste hof van appèl het Vrydag, 21 September 2012, bevind dat dié besluit om appèl aan te teken, die verkeerde besluit was.
Departement skuld nóg R22 miljoen
Weens dié gesloer moet die departement nou ’n bykomende R22,7 miljoen aan die grondeienaars uitbetaal. Bykomend tot die bedrag, beloop rente op die agterstallige rente R6,8 miljoen, met regskoste van sowat R2 miljoen daarby.
“Dit (die hof) observeer die optrede van die amptenare in die diens van die respondente en dit ontlok sterk gevoelens van onrus . . . Weens hul optrede is die openbare beursie aansienlik armer . . . Vir so lank as wat die koopprys onbetaald gebly het, het rente van R84 931 per dag opgehoop. Hierby moet bygevoeg word koste wat net beskryf kan word as swak beredeneerde en moreel gewetenlose litigasie . . .” haal die DA die hof aan.
Mnr. Athol Trollip, verteenwoordiger vir die DA, het om ’n interne ondersoek na die kwessie gevra. “Dit is dié soort wanbestuur wat hervorming kelder, nie die beginsel van vrywillge koper en vrywillige verkoper wat die departement gereeld as ’n verskoning vir mislukking gebruik nie.”