Bewerings deur die Demokratiese Alliansie oor me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, en die feit dat haar suster as ’n waarnemende direkteur aangestel is, het ontsteltenis by die departement veroorsaak.
Luidens ’n verklaring sê die departement die party het opmerkings deur mnr. Langa Zita, die departement se direkteur-generaal, versin en verdraai.
“Dit is vals en ’n blatante leuen dat Zita ‘erken’ het dat me. Rowena Joemat, die waarnemende direkteur van programontwikkeling-ondersteuning, Joemat-Pettersson se suster is,” lui die verklaring.
Zita het Woensdag (8 Februarie 2012) op ’n vergadering met die portefeuljekomitee vir landbou, bosbou en visserye, gesê hy weet nie of enige verwantskap tussen die twee vroue bestaan nie.
Zita het glo aan die komitee gesê dat net omdat mense dieselfde van het, dit nie noodwendig beteken dat hulle verwant is nie. Hy het wel intussen uitgevind dat Joemat die minister se niggie se dogter is.
Nepotisme
Die departement sê die onderliggende boodskap van die DA se verklaring was dat nepotisme betrokke was met die aanstelling van Joemat.
“Vir die rekord: Me. Rowena Joemat is aanvanklik op 25 Maart 2008 op ’n jaarkontrak by die departement aangestel, ’n bietjie meer as ’n jaar voordat Joemat-Pettersson as die minister in haar huidige portefeulje aangestel is,” sê die departement. Die kontrakduur vir die pos waarin Joemat haarself tans bevind, is drie maande wat op 12 April vanjaar verstryk.
Die departement sê hoewel politiek soms robuust en “vuil” kan wees, is dit oneties om ’n stelling te versin en te verdraai.
“Die minister het niks te doen met die aanstelling van direkteure in die departement nie, dié taak is my verantwoordelikheid. Die proses om ’n heeltydse direkteur aan te stel, is onderweg. Dit sal ’n oop, regverdige en deursigtige een wees en die beste kandidaat sal aangestel word,” aldus Zita.
Joemat word beskryf as ’n hoogs gekwalifiseerde akademikus wat die nodige ondervinding en vaardighede het om as ’n waarnemende direkteur op te tree. “Sy is een van die mees begaafde bestuurders in die departement,” lui die verklaring.
9 Februarie 2012