Die werkverrigting van die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming is glo nie so sleg as wat dit voorkom nie.
Die Openbare Dienskommissie (ODK) het dié departement ’n algehele punt van 74% vir werkverrigting gegee. In 2010/’11 het die kommissie vier nasionale en 17 provinsiale departemente nagegaan, insluitend alle departemente wat met die landbou verband hou.
Goeie werkverrigting
Die kommissie het sy bevindinge oor die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming aan die Parlement voorgelê. Mnr. Kobus van der Merwe, hoofdirekteur van monitering en evaluering by die ODK, sê die 74% wat die departement behaal het, dui daarop dat sy werkverrigting in die algemeen goed is teenoor die standaarde waaraan dit gemeet word.
Die departement het 75% vir professionele etiek gekry. Dit beteken dat die bestuurders wat in die evaluering gemeet is, ’n goeie kennis van die prosedures van tugverhore het. Boonop het hy 80% van sy personeellede opgelei in arbeidsverhoudinge.
Daar behoort dus genoeg kapasiteit te wees om kwessies van wangedrag te hanteer. Vir doeltreffendheid en besparing het hy ’n skamele 40% gekry. Dit is weens die onderbesteding van 8,4% van sy begroting.
Die Tesourie laat ’n limiet van 2% onderbesteding toe. Vir ontwikkelingsgeoriënteerde administrasie het hy 80% gekry. Vir onpartydigheid en billikheid 85%, vir openbare deelname in beleidsformulering 100%, vir verteenwoordiging 70%, vir deursigtigheid 90% en vir menslike hulpbronnebestuur 70%.
15 November 2011