
Realistiese, bereikbare teikens wat geskoei is op konkrete planne om grond vir herverdeling aan te skaf, is die nuwe rigting wat die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling wil inslaan.
Die departement het sy prestasieverslag vir die afgelope drie kwartale van die 2021-’22-boekjaar aan die portefeuljekomitee vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling voorgelê. Hierdie nuwe strategie van die departement volg nadat hy weer eens vrot gevaar het met die aanskaffing van grond.
Slegs 23% van die beoogde teikens vir die departement se program vir voedselsekerheid, grondhervorming en restitusie is bereik, en slegs 54% vir die program van landelike ontwikkeling.
Die droewige prentjie word duideliker as selfs net ’n paar van die teikens van hierdie twee programme bestudeer word. Die teiken om grond toe te staan aan mense met gestremdhede vir dié boekjaar is 10%, maar sover is nog niks toegestaan nie. Mnr. Terries Ndove, adjunkdirekteur-generaal vir die herverdeling van grond en ontwikkeling by die departement, sê die rede hiervoor is dat geen aansoeke van mense met gestremdhede vir grond ontvang is nie. Om in die toekoms beter te vaar, sal die departement self na die mense gaan en adverteer dat spesifiek hierdie groep mense vir plase aansoek kan doen.
In die drie kwartale kon slegs 4 766 ha strategies geleë grond aangeskaf word teenoor ’n teiken van 25 225 ha. Ndove het gesê die oordra van eiendomme word vertraag deur onder meer verlengde administratiewe prosesse, wat insluit die kansellering van verbande by die banke, die aanvaarding van waarborge en die betaal van munisipale tariewe en belasting deur verkopers. Die plan is om saam met die banke en munisipaliteite oplossings te vind sodat die proses versnel kan word.
Die departement se teiken was om 5 550 ha vir plaaswerkers en -bewoners aan te skaf, maar dit kon slegs 2 479 ha bekom. ’n Hele reeks verskonings van probleme met munisipaliteite se instel van die Wet op Ruimtelike Beplanning en Grondgebruikbestuur (Wet 16 van 2013) tot ander administratiewe prosesse is hiervoor gegee. Vertragings by die aanskaffingsproses vir goedkeuring by die ondersteuningsprogram vir die ontwikkeling van grond, is as die verskoning gegee oor waarom slegs 35 van die 128 teikens hiervoor bereik is.
Meetbare teikens
Ndove het dit duidelik gemaak dat in die toekoms eerder daarop gekonsentreer sal word om haalbare teikens te stel. ’n Plan is opgestel om te verseker dat hulle in die toekoms teikens verwyder wat nie spesifiek is nie, maar algemene teikens is wat moeilik is om te meet.
Rakende restitusie is die teikens vir die afhandeling en finalisering van grondeise nie behaal nie. Mnr. Sanjay Singh, hoofdirekteur vir die koördinering van dienslewering by die kommissie vir die herstel van grondregte, het aangedui dat die kommissie intussen heelwat werk gedoen het om sy prestasie te verbeter en die versekering gegee dat die teikens nie net bereik sal word nie, maar oorskry sal word.
Goeie nuus vir die uitvoerders van landbouprodukte is dat 100% van die teikens vir die uitvoerprotokolle vir fitosanitêre vereistes toegepas is.