‘n ANC-parlementslid het die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye op SA Stamboek se jaarvergadering in Bloemfontein oor vermorsing van geld gekap.
Mnr. Salam Abram, lid van die parlementêre portefeuljekomitee vir landbou en grondsake, het ook gesê ‘n afname in die Landbounavorsingsraad en die departement se institusionele kapasiteit bedreig die voortbestaan van die nasionale veeverbeteringskema.
Hy het daarop gewys dat die Parlement voortaan die bevoegdheid het om departemente se begrotings aan te pas. Verwysend na die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, het hy gesê dit is onduidelik waarop hy al sy geld bestee, en of dit waarde tot die landbou toevoeg.
“Daar word baie geld uitgegee, maar wie weet waarvoor. Daar is baie goed wat daar gebeur wat nie moet gebeur nie, en dit ten koste van die ontwikkelende boer.”
Abram het die moontlikheid genoem dat ‘n departement se begroting volgende jaar weerhou mag word deur die Parlement omdat hy geld mors. “Dit sal ‘n krisis veroorsaak, maar dit gaan sekere mense ‘n les leer,” het hy gesê.
26 Oktober 2010