
Die derde oesskatting vir somergewasse is deur die Nasionale Oesskattings Komitee (NOK) bekend gemaak. Volgens dié skatting word ‘n oes van 14,5 miljoen ton mielies verwag. Dit is 8,6 miljoen wit mielies en 5,9 miljoen ton geel mielies.
Verandering teenoor vorige maand se skattingDie geskatte geplante oppervlaktes ten opsigte van wit- en geelmielies het dieselfde gebly. Die verwagte opbrengs van wit mielies het met 1,24% toegeneem, met geel mielies wat 1,84% gestyg het. Die totale mielie-oes (wit en geel saam) is met 1,84% opwaarts aangepas.
Tonne gewys styg die witmielie-oes meer met 105 200 ton. Die grootste gedeelte hiervan (80 000 ton) is van Mpumalanga, met die res van die verhoogde tonnemaat wat uit Limpopo en KwaZulu-Natal afkomstig is. Die verwagting vir geel mielies is 107 000 ton meer as die vorige maand se oesskatting. Mpumalanga se verhoging van 66 000 ton maak hier ook die grootste gedeelte van die styging uit, met Noordwes (22 000 ton), en Gauteng, waarvan die skatting met 12 000 ton verhoog is.
Die totale oesskatting is nou 212 200 ton meer as op 28 Februarie 2017.
Opbrengs per hektaarOpbrengste per hektaar word in Tabel 1 hieronder aangedui, waar die derde oesskatting met vorige rekord-opbrengste vergelyk word. Indien dit realiseer, sal dit die beste mielie-opbrengs (t/ha) nog vir Suid-Afrika wees.
Tabel 1: Mielie-opbrengs vir sekere jare
Wit mieliesDie totale mielie-oes word op 14,234 ton geskat; effens minder as 1981/’82 se rekord van 14,656 miljoen ton. Die totale produksie van wit mielies vir sekere jare kan in Tabel 2 gesien word. Dit is duidelik dat vanjaar se witmielieproduksie alle vorige rekords ver oortref.
Tabel 2: Witmielieproduksie vir sekere jare
Geel mieliesHoewel die 5,9 miljoen ton-skatting vir geel mielies baie beter as die vorige seisoen se oes is, is dit nie ‘n rekord nie. Daar was al vorige seisoene waar produksie heelwat meer as 6 miljoen ton was. Die 6 ton per hektaar opbrengs wat verwag word is ‘n nuwe rekord vir geel mielies.
SonneblommeDie verwagte sonneblom-oes vir 2017 is van 996 060 ton tot 853 470 ton verlaag. Dit is ‘n vermindering van 4,75% in vergelyking met die vorige maand se skatting. Hierdie opbrengsskatting is nou 1,34 ton, wat 8% laer as die eerste skatting in Februarie is.
Dit is steeds ‘n relatiewe klein afwyking, aangesien sonneblomme berug is as ‘n gewas waarvan die opbrengs moeilik geskat kan word.
Was die verhoogde mielie-opbrengs ‘n verrassing?Ná die eerste oesskatting in Februarie was dit duidelik dat ‘n rekord-oes waarskynlik op pad is. Die algemene gevoel was dat verdere skattings die opbrengs verder sal verhoog, wat tot dusver gebeur het.
Die ander kant van die munt is dat reënval vir Maart en April vir die grootste gedeelte van die somersaaigebied baie swak was. Is die effek hiervan, veral op jonger aanplantings, reeds in berekening gebring?
Die volgende is ‘n aanhaling uit die NOK se oesskattingsverslag: “Die opbrengs-bepaling per hektaar vir die Mpumalanga-provinsie is gebaseer op wetenskaplike en objektiewe resultate verstrek deur die Nasionale Oesskattingskonsortium, gelei deur die LNR. Neem kennis dat die objektiewe resultate vir die Vrystaat en Noordwes-provinsies in Mei 2017 gerapporteer sal word."
Mpumalanga, waar ton per hektaar-oes volgens gister se (derde) skatting die meeste toegeneem het, se opbrengsbepaling is volgens ‘n ander metode gedoen. Volgende maand se oesskatting, wanneer hierdie werkswyse ook op die Vrystaat en Noordwes van toepassing gemaak sal word, behoort hierdie onsekerheid op te klaar.
* Geskryf deur Johann Strauss, navorser by BVG Commodities